Boikarabelo steenkoolmyn: “Waarvoor vat ons verantwoordelikheid?”

Distrik Landbou Unies het met skok en groot kommer reageer na die bekendstelling van die Omvangsverslag van die Boikarabelo Steenkoolmyn wat in beplanning is in die Steenbokpan omgewing tussen Thabazimbi en Lephalale.

In ‘n dokument aan die konsultant wat vir die omvangsverslag verantwoordelik is, is gevra: “Kan u aandui of alle aandeelhouers asook moontlike finansiers kennis dra van die beplande beduidende negatiewe en onomkeerbare vernietigende omgewingsimpak wat die projek gaan aanrig asook van moontlike eise (nasionaal en internasionaal) wat uit die beplande projek mag voortspruit?” Die vraag is gevra nadat in die verslag erken is dat die myn voor ontginning begin, gedurende en selfs na ontginning dramaties vernietigende onomkeerbare impak op die omgewing sal hê.

Volgens die verslag word die Mokolo dam as die hoofbron van water vir die munisipale gebied geïdentifiseer. Die dam lewer 16 megaliters water per jaar aan drie groot verbruikers, naamlik die Matimba Kragstasie (42%), Grootgeluk steenkoolmyn (36%) en die Ellisras Munisipaliteit (22%). Die dam lewer ook 11 kiloliter water per jaar aan die Mogol Besproeiingsraad. Daar kan aanvaar word dat die myn ook so ‘n massiewe hoeveelheid water as die Grootgeluk steenkoolmyn sal gebruik. Die vraag is waar die water vandaan gaan kom?

Mnr Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou Unie, het gesê dat dit kommerwekkend is dat die oopgroefmyn skynbaar op die walle van die Limpopo rivier of baie naby aan die rivier gebou gaan word. Dan sal besoedeling van die Limpopo ‘n logiese uitvloeisel van die myn wees. Dit is skokkend dat so min respek getoon word vir ‘n internasionale rivier wat stroomaf tot by die see vir soveel mense, diere en landbouers lewensnoodsaaklik water moet verskaf. Terwyl die myn se leeftyd ‘n skamele 30 jaar sal wees, sal lewe vir mens, dier en voedselproduksie in alle waarskynlikheid vir altyd verder af in die rivier onmoontlik wees. Sulke stompsinnige korsigtigheid behoort nie toegelaat te word nie. Dit nieteenstaande die skynbare betekenis van die myn se naam “ons vat verantwoordelikheid”. Die vraag is of die myn verantwoordelikheid vat vir die grootskaalse onomkeerbare besoedeling wat beplan word met min of geen voorsorg nie?

Hoffman het kommer uitgespreek dat die verslag dood gewoon aandui dat die oopgroefmyn nie opgevul gaan word nie. Die verslag is baie eerlik: “The large size of the pit that will be left will for some time result in further reduction of the surface runoff reporting to the catchment. This could potentially impact on downstream water users. Where there will be prolonged exposure of water to the pit material and air after pumping of the water out of the pit has ceased there is a potential for AMD (Acid Mine Drainage) formation.” Die suurwater saam met die suurwater wat vanaf die Mogol – Krokodil oordragskema die gebied gaan binnestroom, gaan verstommende onomkeerbare skade aan die omgewing aanrig. Verder sal die suurwater uit die oopgroefmyn nie gestop kan word nie want dit wil voorkom asof die oop gat nie aan rehabilitasie onderwerp gaan word nie. Dit gaan ‘n groot oop gat bly.

Verder gaan die afval steenkoolhope spontane ontbranding veroorsaak wat nie maklik of skynbaar glad nie geblus sal kan word nie. Die verstommende lug, water en grondbesoedeling wat hieruit gaan voortspruit kan in die Oos Transvaal mooi gesien word. Die skokkende is dat die myngroep met die aandeelhouers die winste gierig opraap maar dit is die mense, diere, plante en omgewing wat die ware prys betaal.