Winter hou spelers weg

THABAZIMBI – Die gereelde maandelikse Slagspel was Saterdag weer aan die beurt by Thabazimbi Gholfklub. Sarel Marais (74), Derek Torlage (75) en Heinrich Penzhorn (78) het die dag die beste gholf gespeel. Johan Barnard was ook die gelukkige lid teenwoordig wat die ledetrekking gewen het.

Dit lyk of die winter ‘n invloed op die bywoning het want die opkoms was maar power. So ook is die inskrywings vir die Indiwiduele- en Pare Putjiespel. Die baan se toestand is puik en die pryse wat met elke kompetisie aangebied word is ook nie te versmaai nie. Dis net die entoesiasme van ‘n klomp lede wat ontbreek. Dankie vir die lede wat so gereeld die wonderlike spel op so ‘n pragtige baan speel.

Daan Lotheringen het nog ‘n lapa skuiling by bof 5/14 opgesit. Dit is nou al die derde soortgelyke skuiling wat hy op die baan opgerig het. Namens die komitee en al die lede word die grootste dank en waardering aan hom oorgedra.

Johan Barnard het baie sweet in die opgradering van die dames se kleedkamer ingesit. Dit is nou ook klaar en dit lyk glo spiekeries.

Daar word ‘n dringende beroep op al die Sageslede gedoen om asseblief Donderdag 17 Junie in die Sanlam Kankerdag te kom speel. Nie-Sages lede is ook baie welkom om die dag saam te speel. So ook sal ‘n vol veld met die “Foursomes” kampioenskappe op Saterdag 19 Junie hoogs op prys gestel word.

Hou ook asseblief die Bosveld Akademie se borgdag op 27 Junie in gedagte.