Vastrap Sitees vir Celia Schoeman

THABAZIMBI – ‘n Ondersteuningsgroep is in die lewe geroep om finansiële bystand en sigbare ondersteuning te lewer vir die ernstig beseerde Celia Schoeman. Celia Schoeman, onderwyseres by Hoërskool Frikkie Meyer, is op 20 April ernstig beseer toe sy met die skoolbussie (met haar 0/14A hokkiespan) in ‘n ongeluk betrokke was.  Celia het onder andere haar regterbeen van onder die knie verloor.

As deel van hierdie ondersteuning  word ‘n Vasstrap Sitees beplan op Dinsdag 8 Junie 2010 waarvoor die terrein van HFM beskikbaar gestel is.  Vir hierdie vas’strap’ moet elke deelnemer ‘n maat hê.  Een been van elkeen in die “span” word aan die ander vasgemaak (strap) met ‘n rugbykous (wat deelnemers self moet saambring) en so moet die 2-km-roete “drie-been” voltooi word.

Die Vasstrap Sitees word op Hoërskool Frikkie Meyer se sportgronde gehou en almal is welkom.  Daar is 3 wegspringtye – 16:30 vir laerskoolkinders, 16:45 vir hoërskoolkinders en 17:00 vir volwassenes en besigheidspanne.  Die organiseerders wil graag die hele gemeenskap daar sien.

Inskrywingsgeld beloop R15 vir kinders en R25 vir volwassenes.  Vir R5 meer kan jy ingeskryf word vir die vinnigste/stadigste, oudste/jongste of snaaksste span, selfs vir die besigheid of instansie met die meeste inskrywings!  Groot pryse kan gewen word!  Die inskrywingsgeld wat geïn word, sal direk in die hulpfonds, wat reeds bestaan, inbetaal word.

Inskrywingsvorms is beskikbaar by die volgende besighede:  Deo Volente, Wimpy, Active Life Gym, J&B Juweliers, Trinkets & Bells, Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer.  Vooraf-inskrywings kan gedoen word, asook Dinsdagmiddag by die ingang in 13de laan.

‘n Ondersteuningsgroep vir gestremdes is gestig wat ook vir Celia gaan ondersteun en hierdie groep, waarvan Celia deel is, gaan ook Dinsdag die byeenkoms bywoon en deelneem.  Baie goeie nuus is ontvang naamlik dat Celia heel waarskynlik Dinsdag ook teenwoordig gaan wees.

Verversings sal te koop wees in die vorm van worsbroodjies, koeldranke, koffie en tee.

‘n Beroep word op die hele gemeenskap gedoen om by die projek betrokke te raak.  Al die besighede, myne, kerke, skole, organisasies, sportspanne en individue word genooi om mekaar vir hierdie byeenkoms uit te daag. ‘n Gemeenskap slegs sterk wees as elkeen bereid is om iets in te sit. Indien jy enige navrae het, kontak vir Luzaan Combrink by 082 5937 084.