Raadslid onder bewaking

THABAZIMBI – Lede van twee sekuriteitsmaatskappye in Thabazimbi is reeds vir ‘n maand lank besig om voltydse beskerming te verleen aan Morris Mataboge, lid van die Thabazimbi Munisipaliteit se Uitvoerende Komitee en Bestuurder van SASSA (South African Social Security Agency).

Mataboge, ‘n proporsionele verteenwoordiger op die Thabazimbiese stadsraad en inwoner van Wyk 2, is vroeg in Mei deur ‘n groep van vier gewapende mans in sy huis oorval.

Dit was sowat agtuur die aand van 5 Mei en hy was pas terug van die winkel af, toe vier mans, waarvan twee gewapen was, toegang tot sy huis verkry het. Een van die mans het ‘n wapen op hom gerig en hy het reageer deur die aanvaller met ‘n stoel te gooi.  Die aanvaller se wapen het op die vloer beland en ‘n skoot het afgegaan. ‘n Tweede man het ‘n wapen te voorskyn gebring.

Mataboge het sitkamer toe gevlug, waar sy neef was en hulle twee het na die naaste slaapkamer gevlug en hulself daarin toegesluit. Hy het vir sy vrou, wat saam met die kinders in die hoofslaapkamer was, geskree het om hul deur te sluit.

Mataboge het daarin geslaag om die polisie te bel en die aanvallers moes besef het dat tyd teen hulle tel, want hulle het Mataboge se huis verlaat.
Volgens Mataboge is die rede van die aanval nie heeltemal duidelik nie. Indien dit ‘n inbraak was, sou hulle sy motor gesteel het toe hy van die winkel af gekom het. Hy vermoed dat dit egter polities van aard is, aangesien dit gebeur het kort nadat huise van ANC-lede in Smash Block afgebrand is.

Die plaaslike polisie was gou op die toneel, maar die saak is oorhandig aan die Ernstige Misdaad Eenheid in Polokwane. Hulle ondersoek klagtes van Rig van ‘n Vuurwapen, Roof en Huisbraak.

Vir die afgelope maand is twee sekuriteitsmaatskappye aangestel om Mataboge te bewaak. Sy huis en gesinslede word nou snags en bedags deur twee wagte bewaak, dus vier mense wat in skofte van 12 uur elk werk.

Uit navrae oor die tariewe van voltydse beskerming, blyk dit dat die vier wagte ongeveer R20 000 per maand sal kos. Die vraag het ontstaan of die belastingbetaler verantwoordelik gehou word vir die sekuriteitstoestand rondom Mataboge, maar volgens die Munisipale Bestuurder, Roger Nkhumise, sal dit oorweeg word indien daar so ‘n versoek deur Mataboge gerig word. Geen so ‘n versoek is tot dusver deur die Munisipaliteit ontvang nie.