Nuwe aanslag op langste boerewors

NABOOMSPRUIT – ‘n Nuwe aanslag op die wêreld se langste boerewors word eersdaags gedoen. Mnr de Beer, voorsitter van Potgietersrus DLU, het aangekondig dat Potgietersrus DLU op hierdie unieke wyse betrokke gaan raak by die “Stop Misdaad” veldtog.

Daar word beplan om op 11 Junie by die Windpompfees in Naboomspruit in samewerking met Afriforum Jeug te poog om die huidige boerewors wêreldrekord te verbeter. Potgietersrus DLU en Solidariteit gaan poog om ’n 235.5 meter lange wors gaar te maak.  Deur die aksie word daar beoog  om die bewustheid rondom plaasaanvalle en moorde, geweld en misdaad te verhoog. Hy nooi die publiek uit om deel te word van die geleentheid. Die vleis sal aan liefdadigheid geskenk word.

Hy rig ’n uitdaging aan ander landbou organisasies om op soortgelyke wyse betrokke te raak en die rekord te probeer verbeter.

Nog ‘n aksie is die plasing van kruise. Die aksie word geloods in die lig van die skerp toename in plaasaanvalle, moorde en verhoogde misdaad. Daar word beplan om op 5 Junie nuwe kruise op te sit by Witkruis gedenkterrein naby Pietersburg. Die kruise is ’n verteenwoordiging van slagoffers van plaasmoorde.

De Beer het dit duidelik gestel dat veiligheid op plase ononderhandelbaar is. Hy doen ’n beroep op elkeen om betrokke te raak by die plaaswagstelsel en in te skakel by TLU SA veiligheidstrukture. Hy vra boere om deel te word van georganiseerde landbou en Afriforum Jeug. Deeltydse boere word ook versoek om deel te word van georganiseerde landbou terwyl daar ook ruimte is vir ander belangstellendes wat nie direk betrokke is in landbou nie, maar ook ’n positiewe bydra wil maak. Dis tyd dat ons almal hande vat teen misdaad.