Kwêla en Rapport besoek Thabazimbi vir die Wendorpkompetisie van SA

Soos almal sekerlik nou reeds weet, is Thabazimbi as die wendorp in Limpopo in die Kwêla en Rapport wendorpkompetisie aangewys. Al die inwoners en gereëlde Kwêla-kykers het hul deel gedoen en sms’e ingebring om Thabazimbi dié dorp in Limpopo te maak wat die moeite werd is om te besoek. Tydens Kwêla- en Rapport-spanne se besoek verlede Donderdag en Vrydag aan Thabazimbi, is verskeie instansies, toeriste aantreklikhede en besighede besoek om aan die Kwêla-kykers te wys hoekom Thabazimbi hierdie toekenning verdien. As deel van hul besoek het hulle ook ‘n draai by die kantore en drukkery van Die Kwêvoël gemaak. Hulle was dan ook die eerste besoekers wat geleentheid gehad het om by Thabazimbi se eie bierbrouery, Dewside Brewery, wat op dieselfde perseel as Die Kwêvoël is, in te loer en die bier te proe. Op die foto is die redakteur van Die Kwêvoël, Pieter Coetzee (tweede van links) saam met die produksiespan van Kwêla. Hulle is vlnr: Wayne (klankman), Lise (aanbieder), Riaan (produksiebestuurder) en Johan (kameraman). Thabazimbi sal op ‘n latere geleentheid teen die wendorpe in die ander provinsies meeding om te bepaal watter dorp Suid-Afrika se wendorp is. Onthou dus om gereeld Kwêla te kyk en die sms’e reg te hou as dit by stemtyd kom. Kwêla word elke Woensdagaand om 20:00 op DStv kanaal 111 uitgesaai. Indien jy dit misgeloop het kyk gerus Saterdagoggend om 02:30 of 18:30, Sondag om 13:30 en Maandag om 08:30.