Bosvelders blink uit by VLU Kongres

Die tema van die Wêreldbond vir Plattelandse Vroue "Vroue wêreldwyd, die stem van vandag" is uitgebeeld in olieverf deur Surita Steenkamp , plaaslike kunstenaar van Steenbokpan,(regs) by Tharina Rossel (presidente van VLU Noord.

Bosvelders het vanjaar behoorlik uitgeblink tydens die VLU Noord se jaarlikse kongres te Modimolle.

Met ‘n tema van “Vroue Wêreldwyd, die stem van vandag!” het Bosveldstreek se lede hul stemme laat hoor. Bosveldstreek het die trofee gewen vir die beste kompetisie-artikels. Elize Pretorius , trotse voorsitter van Bosveld, het trofee in ontvangs geneem vir Fotografie, Breiwerk, Gebak en ook die Skakel van die Jaar, vir Ina Brits van Almatak en Top Steekskakel, Wilma van der Merwe, Bosveld se uittredende skakelbeampte. Nog Bosvelders wat presteer het is: Gebak eerste plek – Sarina Wilson (Beautytak); Masjienwerk – derde was Loesje Barnard (Ellisrastak), tweede Annelize Maritz (Ellisrastak); Gebreide handsak – eerste plek – Anna Schoeman (Ellisrastak); Batik – tweede plek – Hannatjie du Plessis (Northam); Fotografie: derde – Katinka Heyns (Ellisrastak), tweede – Surita Steenkamp (Ellisrastak). Wat die groot totale betref het Cathy Muller van Naboomspruit VLU, in die tweede plek Heleen Stiglingh van Paarltak en derde Mari Meintjes van Northamtak.

Hannatjie du Plessis van Northam het haar 40 jaar knopie van die president, Tharina Rossel ontvang. Tharina, van Ellisrastak is vir ‘n tweede termyn herkies as presidente vanVLU Noord.

Surita Steenkamp, voorsitter van Steenbokpan VLU het vier olieverf-skilderye gemaak om die tema van ‘Vroue Wêreldwyd’ uit te beeld. Die skrywer van die jaar, Joey Pienaar, ook ‘n VLU-lid van Bela Bela, is vereer vir haar onbaatsugtige bydrae tot liefdadigheid en die resepteboeke wat al jare deel is van die lewe van Suid-Afrikaanse vroue, soos die bekende “Knuppeldik is koningskos”.

Mathys Roets, kunstenaar van die jaar, het ‘n konsert spesiaal vir VLU Noord gehou en lede het dit baie geniet. Die persoonlikheid van die jaar, Ina Wilken, verbruikersaktivis, het kongresgangers geïnspireer.

Nog ‘n gewilde spreker is die uitvoerende beampte van Dames Kring, Magdie de Kock, wat vroue uitgedaag het om hul stemme op ‘n positiewe wyse, nie-veroordelend ensonder kritiek te laat saamwerk tot voordeel van hulself en hul dogters.

Elana Greyling