“Balke Toe” skitter met Grafsteensangers

Rita van die KunsteGrot (middel) saam met die ondernemer en die weduwee.

THABAZIMBI – Geskiedenis is tydens die KunsteGrot op Thabazimbi se vierde verjaarsdag gemaak met die debuut opvoering van “Balke Toe”, die nuwe verhoogstuk van Die Grafsteensangers.

Die meeste gesigte is nog dieselfde, maar hier en daar het ‘n nuwe gesig uitgeloer. ‘n Meer dinamiese effek is ook geskep deurdat lede van die groep meer rond beweeg en meer teks gebruik word.

So het een van die ou lede, wat eintlik meer as bestuurder van die groep opgetree het, ook die verhoog betree as die weduwee se ma wat uit Huis Spataar weggeloop het. Dan is daar ook die klankman wat moet sorg dat die verhoog en klankstelsel alles reg is voor die vertoning en skelmpies die klankstelsel met sy diep baritone-stem uittoets.

Een van die nuwe karakters wat vir groot vermaak gesorg het, was die spietkop wat verantwoordelik is vir al die verkeersreëlings, selfs op die verhoog.

Soos die naam ook sê: “Balke Toe”, gaan daar heelwat jollyt met hierdie begrafnis gepaard en kort-kort is daar geleentheid vir so ‘n jakkalsdraffie of twee. Soos die Ondernemer self gesê het: “’n Lekker begrafnis is baie beter as ‘n vervelige troue”. Hoe en wanneer oom Willem toe uiteindelik begrawe is, bly steeds onbekend.

Hierdie is beslis ‘n vertoning wat die lagspiere uitstekende oefening gee en is die moeite werd om te sien.