Wildveiling lok wye belangstelling

Tydens die veiling is twee bakoor jakkalse vir R8 000 elk verkoop.

Bela Bela – Die jaarlikse wildveiling wat deur “Wildlife Ranching SA” (WRSA) aangebied word en altyd in Pretoria plaasgevind het, is vanjaar verskuif na Warmbad (Bela Bela).  Die veiling is aangebied in die hokke van Thaba Manzi wat behoort aan mnr Hans Kooy.

Die diere in die hokke was besonder mooi aangebied omdat Kooy ’n jarelange wildhanteerder is en weet hoe om wild te hanteer en te versorg. ‘n Groot aantal mense het soos in die verlede die veiling bygewoon.

Die diere wat op katalogus aangebied is het skaarser spesies soos bakoor-jakkalse, goue wildebeeste, witrenosters, swartwitpense en springbokke ingesluit. Die veiling het ‘n totale omset van R6 490 575 gelewer waarvan die katalogusgedeelte R 3 865 000 uitgemaak het.

Die veiling is deur Vleissentraal Bosveld Potgietersrus (Mokopane) aangebied.

Die diere wat die hoogste prys behaal het was onder andere die goue swartwildebeeste wat teen R250 000 stuk verkoop is, die witrenosterkoei wat vir R325 000 gegaan het en die swartwitpens koeie en verse wat vir R160 000 elk gegaan het. Die twee bakoor jakkalse wat aangebied is het ook vir R8 000 elk gegaan.

By die teelgroepe het ses buffels vir R141 667 gemiddeld gegaan met die hoogste prys van R175 000 en R150 000 vir die buffel verse wat aangebied is. Die 11 kameelperde het gemiddeld R17 136 behaal met die hoogste prys van R20 000. Die ander gemiddelde pryse was as volg: Blesbokke – R1 250, blouwildebeeste – R2 034, gemsbok – R4 800, koedoes – R2 642, njalas R6970, rooibokke – R773, rooihartbeeste R4 750, zebras R4 834 en volstruise R1 100.

Van die manlike diere wat in die hokke aangebied is het blesbokke asook wit blesbokke vir R1 400 gegaan, blouwildebeeste R 3 100, ‘n buffel vir R60 000 terwyl die jonger buffels R37 500 gemiddeld gehaal het. Koedoes was R 10 000 gemiddeld, njalas R9429, rooibokke R1 000 en die twee witrenosterbulle is vir R142 500 en R145 000 onderskeidelik verhandel.