Wees wakker teen diewe se slim slenters

Ephraim Mosweu wys die koevert en koerantpapier wat diewe aan hom teruggegee het nadat hulle hul as polisiemanne voorgedoen het en hom van diefstal beskuldig het.

THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi is nog gereeld slagoffers van geslepe diewe wat hulle uit geld swendel, soos onlangs gebeur het met Ephraim Mosweu, tuinier by die NG Kerk.

In die geval van Ephraim was dit egter so slim gedoen dat slegs diegene wat die modus operandi van die swendelaars ken, die lokval sou vryspring.

Kort nadat Ephraim sy Aprilmaand salaris, plus oortyd-ekstras, ontvang het, het hy dorp toe gegaan om ‘n televisie vir sy kinders te koop. Nadat hy een prys vir ‘n televisiestel by ‘n winkel in Van der Bijllaan verneem het, het hy besluit om rond te soek vir iets goedkopers.

Kort nadat hy die winkel verlaat het, het ‘n vreemde man, wat homself voorgestel het as ‘n werknemer van die Thabazimbi Munisipaliteit, by hom aangesluit en hom vertel van kontant wat hy opgetel het naby Shoprite.

Die man het telkens oproepe na “sy vrou” toe gemaak om haar in kennis te stel van hulle bewegings. Intussen is Ephraim deur sy metgesel gelok na ‘n stiller gedeelte van die dorp, na die brug oorkant BP Garage.

Hier is hulle voorgekeer deur “polisiemanne” in gewone klere wat hulle daarvan beskuldig het dat hulle geld opgetel het wat aan iemand anders behoort het. Die “polisiemanne” het aangedui dat hulle ‘n beskrywing het van die “dief”. Weldra is daar verklaringsvorms uitgehaal en “verklarings” is afgeneem.

Aanvanklik is Ephraim as die skuldige aangewys, maar nadat hy sy geld vir die “polisieman” en sy salarisstrokie as bewys gegee het, is sy geld, in ‘n koevert, aan hom terugbesorg en is die metgesel van die diefstal aangekla. Hy is dan ook later saam met die polisiemanne daar weg.

Ephraim was op hierdie stadium nog salig onbewus daarvan dat sy geld gesteel is. By sy terugkoms by die kerk het hy aan die koster, Dawie Roux, gesê dat hy amper moeilikheid by die polisie opgetel het. Dis eers later toe hy geld uit die koevert wou haal, dat hy besef het dat hulle hom slegs ‘n koevert met koerantpapier teruggegee het in plaas van sy eie geld.

Ephraim beskryf die drie polisiemanne al drie as kort en gesette swart mans met gelaatskleure wat wissel van donker tot lig.

Volgens die polisie word daar gereeld mense uit geld geswendel en hulle versoek die publiek om uiters versigtig te wees.

‘n Ander persoon is die afgelope maand uit duisende rande nadat hy telefonies in kennis gestel is deur ‘n “Vodacom-werknemer” dat hy R3miljoen in ‘n outomatiese trekking oorsee gewen het.

Om die geld egter in Suid-Afrika te kry moes die slagoffer elke nou en dan bedrae tussen R1 000 en R3 000 oorbetaal vir lugtyd, prokureursonkoste, posgeld en ander administrasiefooie.

Hierdie slagoffer het later geld gaan leen om hierdie onkostes te betaal, alles in die vooruitsig dat hy binnekort R3m ryker sou wees. Daardie dag het egter nooit aangebreek nie en hy was etlike duisende rande in die skuld.

Hennie Pauw