VLU vergaderings by Aandrus kwekery

Annetjie Dreyer (Northam VLU), Liz van Tonder, Linda van Wyngaart en agter Marietjie van der Merwe almal van Thabazimbi VLU met hulle rangskikkings.

THABAZIMBI – Northam en Thabazimbi VLU het op 11 Mei saam vergadering gehou by Aandrus Kwekery. Elke tak het eers hul onderskeie huishoudelike sake afgehandel waarna daar heerlik om ‘n koppie warm sop en broodjies gekuier is. Ria Thuysma van Ellisras het vir die dag deurgekom en die dames die fynere kunsies van blommerangskikking kom wys. Sy het veral gekonsentreer op die belangrikheid van horisontale en vertikale lyne in die rangskikking. Al die lede het daarna die geleentheid gekry om self te probeer waar Ria by was om hul meer touwys te maak. Die dames van Northam VLU se volgende vergadering vind (DV) op 17 Junie om 09:00 te Mawala Lodge plaas waarna hulle na die organise plaas, Letlapa Pula vertrek. Hier gaan Peter en Colleen Cramer die dames meer leer oor die werking van ‘n organiese plaas. Enigeen wat hierdie uitstappie wil meemaak kan gerus vir Mari Meintjes kontak by 014 7860304 of 0820864915. Thabazimbi VLU hou op 12 Augustus ‘n spesiale oggendtee waartydens hulle graag vir Marie Steenekamp wil vereer as Thabazimbi se vrou van die jaar. Hierdie is ‘n vrou met soveel lewenslus wat onbaatsugtig en met haar volle hart betrokke is by haar gemeenskap en dorp. Dit beloof om ‘n heerlike oggend te wees met ‘n gaskunstenaar, uitstallers en die spreker vir die dag is Tessa van Wijk, kenner op die gebied van trauma. Kaartjies vir hierdie oggend is beskikbaar by Liz van Tonder 0844364429. Voornemende uitstallers is ook welkom om haar te skakel.