Groot pret met Country fees by Sundown Ranch

Country legends wat opgetree het by Sunset Ranch tydens die Country fees wat van 7-9 Mei plaasgevind het was vlnr Lance James, Bobby Angel, Billy Forest, Sally Vaughn en Jody Wayne met die Rodeo Girls in die agtergrond.

SUN CITY – Sundown Ranch, ongeveer 10 km vanaf Sun City naby Boshoek, het die naweek van 7 tot 9 Mei ‘n countryfees aangebied. Bekende country legendes soos Lance James, Barbara Ray, Bobby Angel, Clive Bruce, Billy Forest en Jody Wayne het opgetree.

Die Rodeo Girls het die manne se harte laat klop en Dozi die het die dames met sy stem bekoor. Plaaslike sangers soos Riaan Rust, Thabo Pitse, Johan Steyn en Tilly Pieters het die gehoor ook tussen deur vermaak. Die kleingoed is vermaak deur “carnival rides”, die dorstiges natuurlik deur ‘n biertuin en dan was daar ook verskeie stalletjies om ekstra geur en kleur te verleen.

Verskeie kompetisies met goeie pryse soos byvoorbeeld ‘n potjiekoskompetisie, Meneer Bierpens as ook vir die skoner geslag en lyf bewustes Mej Sundown en Mnr Leeupark het deel van die fees uitgemaak. Die wenner van die potjiekos, met ‘n watertand seekospotjie was Dawie Meyer. Kort op sy hakke was die hoender breyani pot van Kinta en Dries le Grange van Ventersburg en Paul Kern was in die derde plek met sy wildspotjie.  Dié wenpotte was almal uit die boonste rakke gewees. SAB het al die pryse vir die kompetisie geborg.

Sondag was ‘n ope mikrofoondag waar enige persoon kon deelneem en na hartelus hul gunsteling liedjie kon sing.  Sundown Ranch beskik oor ‘n leeupark en verblyf is beskikbaar in chalets asook die hotel wat ‘n uithaler spyskaart teen bilike pryse voorsit.

Die organiseerders van die country fees het baie tyd spandeer en moeite gedoen om daarvan ‘n sukses te maak en hulle is voorwaar ‘n klomp aangename mense. Die opkoms was effens teleurstellend, maar vir diegene wat wel die verrigtinge meegemaak het was dit ‘n absolute fees.