Trellicor open nuwe Thabazimbi-franchise

THABAZIMBI – Die Trellicor Groep brei uit met die bekendstelling van ’n nuwe franchise in Thabazimbi. Franchise-eienaar Pieter du Plessis is reeds 20 jaar by die maatskappy en is baie in sy noppies omdat hy nou sy eie Trellicor-verkooppunt gaan hê. “Ek het ’n klein, maar ervare span wat op klante ingestel is en deur op ons plaaslike gebied te fokus, kan ons hierdie filosofie in die praktyk uitleef,” sê hy. Pieter se franchise sal die volle reeks Trellicor-produkte aanbied. Dit sluit die alombekende Trellidor-sekuriteitsversperrings vir deure en vensters, Coroma-motorhuis en nywerheidsdeure en Roll-Up Serranda-rolluike in. In hierdie groep produkte is daar ’n sekuriteitsversperring vir elke opening en dit sluit die volle spektrum van baie klein vensters tot uiters groot pakhuisingange in. Die nuwe franchise was aanvanklik deel van Trellidor se Rustenburg-franchise wat versperringbeveiliging aan ’n groot gedeelte van Limpopo verskaf het. Die Thabazimbi-gebied het nou ’n toegewyde span sekuriteitskonsultante en installeringstegnici wat geredelik beskikbaar is vir inwoners wat teen die toename in roofaanvalle in hulle huise, op hulle plase en by hulle besighede moet terugveg. “Ons is nou nader aan die gemeenskap en daarom kan ons vinnig reageer op noodgevalle soos inbrake waar mense beveiliging dringend nodig het,” sê Pieter.  Die span bestaan uit Pieter wat saam met Leon Olivier raad oor beveiliging gee. Tossie Swanepoel bedryf die kantoor en is die eerste persoon met wie klante in aanraking kom. Sy reël die konsultante en installeerders se afsprake en hou klante ingelig oor vordering met hulle bestellings. Leon en sy assistent Sam Letlotlo is ook vir die installerings verantwoordelik. Albei is professioneel opgelei en baie ervare. Hulle installeer die Trellicor Groep se volle reeks produkte en, nadat die werk afgehandel is, verduidelik hulle aan klante die gebruik van en sorg vir hulle nuwe sekuriteitversperrings. “Ek en Leon doen graag gratis sekuriteitsopnames sodat plaaslike inwoners kan besluit wat die beste manier sal wees om hulle huise of kantore te beskerm. Ons sal kyk wat daar ten opsigte van sekuriteit by die perseel is en ’n pakket van produkte aanbeveel om dit te verbeter,” sê Pieter. “Dit kos net een telefoonoproep na ons kantoor en ons sal ’n besoektyd reël wat die klant pas.”

Terreinbesoeke is noodsaaklik omdat Trellicor-sekuriteitversperrings vir deure, vensters en ander openinge na maat gemaak word om elke opening perfek te pas. Dit verseker ’n presiese passing wat deurslaggewend is vir die produk se vermoë om ’n aanval te weerstaan. “Ons meet die opening wat beveilig moet word, spesifiseer die korrekte produk, en installeer ’n sekuriteitsversperring wat in ons ultramoderne fabriek pasgemaak word.” Die nuwe franchise is te Van Der Bijlstraat 67, waar ’n vertoonkamer geïnstalleer is sodat klante self die produkte kan kom toets. Inwoners is welkom om die span by 014 777 1370 vir advies oor beveiliging te kontak of om ’n afspraak met Leon, telefoon 079 777 0725, te reël.