Michelle Snyman stoei in Egipte

Michelle Snyman wat aan die toer na Egipte deelgeneem het en ‘n algehele 5 de plek behaal het staan trots hier saam met haar afrigter en pa Jaco Snyman. Sy is 1 van net 6 meisies wat gekies was om aan die kampioenskappe deel te neem in Egipte.

THABAZIMBI – Michelle Snyman ‘n graad 10 leerling verbonde aan Hoërskool Frikkie Meyer en ‘n geregistreerde stoeier van Mogolstoeiklub te Ellisras, het gedurende 19 tot 28 April 2010 deelgeneem aan die SA Kadette toer na Egipte. Die stoeiers het die 19de en 20ste Februarie 2010 met gradering vir die SA Kadettespan te Benoni gekwalifiseer en die span wat uit 33 lede bestaan is in Maart 2010 aangewys om deel te neem aan die toer.

Michelle is aanvanklik gekies vir die Afrika kadettespan, maar is later opgeskuif na die kwalifiserende span vir die jeug Olimpiese spele.  Die lande wat deelgeneem het is Algerië, Nigerië, Egipte, Marokko, Tunisië, Kenia, Namibië en RSA. Van die 33 stoeiers wat gaan toer het, was slegs 6 meisies. Die kompetisie was baie straf en hulle moes al hul vernuf gebruik.  Michelle verwerf ‘n 5 de plek in die kompetisie. Hiermee ontvang sy dan ook haar SA Kadetkleure. Die span van RSA het ‘n algehele tweede plek behaal wat skitterend is. Michelle spreek haar dank uit teenoor haar ouers en veral haar pa Jaco wat met haar afrigting betrokke is en ook die grootste finansiële bydra gemaak het tot die toer. Dries van Zyl, Adie van Zyl, Mauritz Grobler, Elize Grobler, Marnitz Grobler wat haar met afrigting en raad bygestaan het word ook bedank. Verder bedank sy die Mogol klub en Limpopostoeivereniging vir hul bydrae van R1000 elk en Tertius Roux van Klerksdorp het ‘n rooibok geskenk waarvan die lootjies verkoop is om haar te help met sakgeld. Laastens ‘n groot dank aan die Nasionale span afrigters wat die kinders vergesel en ondersteun het met die toer.