Jeugorkes kom speel ten bate van Tambotie

THABAZIMBI – Geskiedenis word behoorlik gemaak wanneer die Simfonia Juventi, ‘n jeugorkes, op Saterdag 22 Mei, by Hoërskool Frikkie Meyer gaan optree. Al die fondse wat tydens die geleentheid ingesamel word, gaan aan die Tambotie-Huis vir bejaardes geskenk word.

Wat die optrede ook uniek maak is die feit dat twee van die lede van die orkes, Annerie Senekal (Alt viool) en Lara Snyman (Tjello), oud leerlinge van skole op Thabazimbi is. Beide is nou leerlinge verbonde aan Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria.

Met hierdie optrede wil Hoërskool Frikkie Meyer dan ook die gemeenskap van Thabazimbi bedank vir hulle lojale ondersteuning op verskeie gebiede rakende die skool.

Die vertoning begin om 18:30 stiptelik en reeds vanaf 18:00 kan u, u sitplekke inneem. Geen besprekings word geneem nie en kaartjies is teen onderskeidelik R50 en R60 beskikbaar, afhangend van die blok waarin u sit.

Kaartjies is vooraf beskikbaar. Kontak die administratiewe kantoor HFM by 777 1583 vir meer inligting.