Beterskap vir Celia Schoeman van HFM

Celia Schoeman wat ernstige beserings opgedoen het tydens die motorongeluk op 20 April, sterk goed aan in Unitas Hospitaal in Pretoria.

THABAZIMBI- Celia Schoeman, die onderwyseres van Hoërskool Frikkie Meyer, wat op 20 April ernstig beseer is toe sy met die skoolbussie en haar o/14A hokkiespan in ‘n ongeluk betrokke was, sterk goed aan in Unitas hospitaal in Pretoria.

Sy is intussen van die respirator afgehaal maar is nog in die hoë sorg eenheid van die hospitaal. Celia ontvang nog behandeling vir haar erg beseerde arm en die pad na herstel gaan nog ‘n rukkie duur. Volgens haar man, Gert, dra sy kennis van alles wat gebeur het en het ook die geleentheid gehad om met haar gesin te komunikeer. Hy sê dat sy baie positief is en stuur groete vir almal. Haar verblyf in die hospitaal gaan nog vir ‘n wyle voortduur.

Weens die hoë mediese koste is daar ‘n hulpfonds gestig vir diegene wat ‘n bydra wil maak. Die fonds sal aangewend word vir die betaling van die hospitaal onkostes. Deposito’s kan gemaak word by ABSA Bank Thabazimbi, Takkode 334346, Rekeningnommer 1580390141 met die verwysing 3051.

Die Schoeman gesin is baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat hulle met oproepe, sms en gebede bystaan in die moeilike tyd wat hulle deurmaak.

Die drie dogters wat ook ernstig in die ongeluk  beseer is, Ca-ria du Toit, Elsa de Villiers en Leandi Coetzee het goed aangesterk en almal is reeds weer terug by die skool.