Verbetering aan eiendom lewer goeie opbrengs

ERA SA – ’n Amerikaanse studie het getoon dat goed beplande huisverbeterings in die algemeen waarde toevoeg en dit makliker maak om die eiendom te verkoop.

Met die plaaslike eiendomsmark wat stadig maar seker veld wen kan huiseienaars wat dit begin oorweeg om te verkoop, inderdaad hulle kanse op sukses met ‘n paar slim verbeterings verhoog, sê Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep.

Die bevindings van die Amerikaanse studie was in een opsig ietwat verrassend deurdat sowel ooglopende verbeterings, soos opknappings aan badkamers of die aanbou van ‘n nuwe gesinskamer, sowel as klein verbeterings aan die buitekant van die huis vrugte afgewerp het, sê hy.

“Dit is dikwels klein verbeterings wat die aansig van ‘n huis verbeter wat oor die hoof gesien word ten gunste van duurder verbeterings aan die binnekant van die huis – en dit is waar eienaars munt kan slaan indien hulle bereid is om hulle denkwyse aan te pas.

“Boonop het die opname – die ‘2009 Remodelling costs vs Value Report’ – wat deur die Amerikaanse Realtor Magazine onderneem is, getoon dat kleinskaalse opknappings inderdaad die beste opbrengs by verkoop lewer.

“Die opname verwys na eenvoudige veranderings soos vervanging van deure, aanbou van houtdekke, vertrekke in die dakruim, eenvoudige kombuisopknappings en vervanging van vensterrame.

“Verrassend genoeg, het die inrig van tuiskantore en aanbring van sonkamers die kleinste opbrengs gelewer, hoewel dit in Suid-Afrika, waar daar groter klem op tuiskantore en ‘n buitelug leefstyl is, moontlik nie gaan geld nie.

“Alle verbeteringe in die opname het minder as $14 000 (sowat R105 000 teen heersende wisselkoerse) gekos en ‘n mens hoef dus nie noodwendig ‘n nuwe verband op jou huis uit te neem om dit te bekostig nie.

“Die beleggings het egter die verkoopswaarde van die eiendom verhoog en hoewel dit ooglopend mag klink, is dit gerusstellend dat verbeterings nie net estetiese waarde nie, maar ook finasiële waarde kan toevoeg.

“Geen belegging is egter ooit gewaarborg nie en in Suid-Afrika is dit belangrik om nie soveel geld te bestee dat die eiendom oorgekapitaliseer is nie; dat die veranderinge by die bestaande styl pas; dat dit die funksionaliteit van die eiendom verhoog; en dat die werk professioneel gedoen word.

“Dit is ook waar dat die opbrengs in een gebied nie noodwendig vir alle gebiede gaan geld nie – en die redes is ooglopend.

“Die beste benadering is waarskynlik om die heersende toestande in jou plaaslike mark in berekening te bring.”

UITGEREIK DEUR ERA SUID-AFRIKA
VIR NADERE KOMMENTAAR
GERHARD KOTZE
012 682 9610 OF BESOEK
www.era.co.za