Wildsveiling te Gravelotte

Een van vier Livingstone Elande wat teen ‘n gemiddelde prys van R24875 en hoogste prys van R40500 verkoop is op die Wildsveiling wat op 17 April te Gravelotte plaasgevind het.

GRAVELOTTE – Vleissentraal Bosveld het as afslaers opgetree op 17 April by die wildsveiling wat aangebied is deur Zander Osmers. Die veiling was gehou te Selati Wildhokke te Gravelotte.

Hierdie was Zander Osmers se eerste wildveiling met slegs uitstaande manlike diere. Dit was beslis die beste groep manlike diere wat seker nog in Suid Afrika aangebied was. As voorbeeld kan ons noem dat daar ‘n waterbokbul met 33” horinglente aangebied was en twee Swartwitpensbulle van 46.5”, alhoewel hulle slegs vir jag doeleindes aangebied was weens hulle ouderdom. Kopers het sover as Potchefstroom gekom, die bywoning was dus goed as in gedagte gehou word dat die veiling op Gravelotte aangebied was. Die pryse was as volg. Vyf Blouwilde beeste met ‘n gemiddelde prys van R3680 en hoogste prys van R4000. Vyf Kaapse Elande met ‘n gemiddelde prys van R12700 en hoogste prys van R13000. Ses Koedoes met ‘n gemiddelde prys van R13084 en hoogste prys van R15000. Vier Livingstone Elande met ‘n gemiddelde prys van R24875 en die hoogste prys van R40500. Ses Njalas met ‘n gemiddelde prys van R14000 en hoogste prys van R18000. Ses Swartwitpense met ‘n gemiddelde prys van R63584 en die hoogste prys van R87500.Tien Waterbokke met ‘n gemiddelde prys van R14750 en hoogste prys van R20000. Een Zambiese Swartwitpens is verkoop teen R77000, vier Impalas teen R1550 elk en vyf Sebra Hingste teen R5000 elk. Die totale omset vir die dag het R982 000 beloop en die afslaer vir die dag was Willie Roux van Vleissentraal Bosveld wat in Potgietersrus geleë is. Wild wat per katalogus verkoop is was twintig Rooibok ramme met ‘n gemiddelde prys van R1425 en die hoogste prys van R1500 en vier Rietbokke ramme teen R5000 elk. Die totale omset vir die katalogus diere het R48 500 beloop en die totale omset vir die veiling R1 030 500.

Die volgende veiling word aangebied deur Floors Venter van Maboaboa wild en vind op Vrydag 23 April plaas te Polokwane.