Spelers durf nat baan aan

THABAZIMBI – Op ‘n renerige Saterdag, verlede week, het die Bosveldliga klubs op Thabazimbi Gholfklub se baan saamgetrek om sake uit te spook. Tagtig spelers het die nat baan aangedurf en drie van Thabazimbi se vier pare het gewen teen Brits.

Thabazimbi is verteenwoordig deur Eugene Oberholzer, Kerneels Viljoen, Johan Barnard, Sarel Marais, Charlie Penzhorn, Rudi Conrad, Tiaan Bronkhorst en Christof Penzhorn.

Die maand van Mei gaan ‘n baie bedrywige gholfmaand wees. Dit skop af met die Interaksie op Vrydag 7 Mei wat deur Eagle Mountain Spur geborg word. Saterdag, 8 Mei, is ‘n borgdag aangebied deur die Laerskool Dwaalboom en Donderdag 13 Mei speel die Sages op Koro Creek. Saterdag 15 Mei is dit die “Foursomes” kampioenskappe oor 27 putjies.

Die dames hou op Saterdag 23 Mei ‘n borgdag om geld in te samel om hulle kleedkamer op te gradeer. Die Sanlam Kankerdag word Saterdag 29 Mei gespeel. Dan is daar ook nog elke Woensdag die Pick n Pay Sonsakker.