Geliefde gesig van Blockbusters DVD oorlede

THABAZIMBI – Hannelie Badenhorst van Blockbusters DVD in Thabazimbi is op Maandag, 19 April 2010 oorlede. Haar begrafnis het Vrydag, 23 April 2010 om 11:00 vanuit die AP kerk plaas gevind. Hannelie was 41 jaar oud en word oorleef deur haar ma, Valerie Badenhorst, haar seun Christo, nou in matriek en broer, André. Sy was ‘n ou inwoner van Thaba omgewing. Hannelie het nooit gekla nie, daarom het bitter min mense besef hoe ernstig siek sy werklik was. Medies gesproke was sy omtrent ‘n wonderwerk. Mense sal haar onthou as ‘n groot deel van Blockbusters. Sy was altyd gereed om te help en beskikbaar vir ‘n geselsie. Sy was voorwaar ‘n dierbare mensie. ‘n Groot leemte word deur haar gelaat in haar dierbares se harte en lewens, asook by Blockbusters se kliënte. Sy sal verskriklik gemis word. Valerie wil graag ‘n ieder en elk bedank vir al die blomme, geskenkies, simpatie, hulp en ondersteuning. Dit word opreg waardeer.