Spinathon weer vanjaar by Expo

Die Spinathon, ten bate van CANSA, word vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar by die Expo aangebied.

THABAZIMBI – Sportklubs, sosiale klubs, besighede, skole, kerke en andere word uitgenooi om aan die jaarlikse Spinathon ten bate van CANSA by die Toerisme Expo by Thaba Park deel te neem.

Mededinger klubs en besighede het in die verlede bygedra tot die groot sukses van die Spinathon deur mekaar uit te daag of sommer net vir die pret deel te neem.

Die gebeurtenis vind plaas op Saterdag 1 Mei tussen 09:00 en 13:00 by Thaba Park. Spanne van vier  los mekaar af op ‘n oefenfiets – elke deelnemer kry geleentheid vir 5 minute om die pedale te laat sing. Die span wat die grootste gesamentlike afstand aflê, wen.

Die inskrywingskoste is R440 per span en besighede word aangemoedig om spanne te borg. Spanne wat voor of op 30 April inskryf, kry gratis toegang.

Vir diegene wat nie fiks genoeg is om aan die Spinathon deel te neem nie (of nie bereid is om gekke van hulself te maak nie), kan wys hul gee om vir ‘n goeie saak deur hul hare te laat skeer of kleur. Pryse wissel tussen R10 en R50.

Vir enige navrae skakel Lize Momberg by 082 520 8455 indien moontlik ná 13:00 op weeksdae.