Pleidooi vir verhoging van studiehulpdrumpel

Die DA Jeug het die afgelope week van 19 tot 23 April ‘n veldtog oor 22 kampusse landwyd gehou om studente se steun te kry vir die verhoging van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema se drumpel.

Tans word finansiële steun beskikbaar gestel vir studente uit huishoudings wat minder as R120 000 per jaar verdien. DA Jeug wil hê dat die bedrag opgeskuif word na R160 000.

Verlede jaar is R40miljoen teruggegee aan die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFHS) omdat universiteite nie genoeg studente kon kry wat onder die drumpel val nie. Ten spyte hiervan is daar egter talle studente wat net-net bokant die drumpel geval het en finansieel moeilik die mas opgekom het.

Volgens die DA se skaduminister van Hoër Onderwys, dr Wilmot James, sluit die drumpel van R120 000 hulp uit aan die groep Suid-Afrikaners aan die boonste punt van die werkersklas en aan die onderste end van die middelklas. Volgens hom weet hy van talle studente wat nie die drumpel gehaal het nie, en nog steeds hul tersiêre studies moes laat vaar as gevolg van die hoë koste verbonde daaraan.

Hy meen dat terwyl daar onopgeëisde fondse by die NFSHS lê, die logiese stap sou wees om die drumpel te verhoog.

Verlede jaar is die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande twee keer deur die Demokratiese Alliansie versoek om die drumpel aan te pas, maar hy het telkens geweier.

Met die  huidige DA Jeug-veldtog, waar soveel as moontlik handtekeninge op kampusse gewerf sal word, hoop die DA om die minister daarop te wys dat die huidige drumpel hopeloos uit voeling is met die finansiële behoeftes van studente en hom te versoek om dit aan te pas.