Noue ontkoming met luislang

THABAZIMBI – Die misterieuse verdwyning van ‘n gesin se geliefde hondjie, Stoney het gely tot ‘n skrikwekkende ervaring vir die gesin se tiener dogter.

In verlede week se koerant het ‘n advertensie verskyn oor die gesin se hondjie wat verlore is. Op Saterdag 17 April om ongeveer 14:00 wou die 13 jarige Michaela aan haar vriendin Ané gaan wys waar sy die laaste keer die hondjie gesien het. Hulle was ongeveer 30 meter vanaf die huis in die veld toe Michaela skrams langs ‘n bos verbygeloop het. Skielik het sy gevoel dat iets haar onder haar linker knieg krap en gedink dat dit ‘n tak was, maar toe sy afkyk het sy gesien hoe ‘n slang sy kop terugtrek onder die bos in. Sy het dadelik besef dat sy gebyt is en het mooi gekyk hoe die slang lyk om dit te kan identifiseer. Sy het kalm gebly, haar vriendin gewaarsku en stadig na die huis terug beweeg waar sy haar ouers ingelig het dat sy nou net deur ‘n Luislang gebyt is.

Haar pa het haar in sy arms opgetel en Curamed toe gehaas. Michaela het dadelik die slang identifiseer as ‘n Luislang, want die slang was groot en het blokke op sy lyf gehad. By Curamed het sy dit weer bevestig op ‘n kaart met slange. Met die skoonmaak van die wond het Dr Jaco Marais gemerk dat die wond ooreenstem met ‘n byt van ‘n Luislang, maar gesê dat visuele bevestiging baie belangrik is. Vriende en die gemeenskap het dadelik kom hulp verleen om die slang te soek. Na ongeveer ‘n halfuur het hulle die 3,5 meter luislang met ‘n 40cm omtrek gevind en die besonderhede deurgebel na Curamed. Michaela het ‘n klem in die kaak inspuiting ontvang en is op ‘n antibiotika drup geplaas om ontsteking te voorkom. Sy is ook vir 2 dae in Curamed vir observasie gehou. Maandagoggend is Michaela ontslaan en is reeds terug skool toe. Die luislang is met sorg verwyder en op die wildsplaas van ‘n plaaslike inwoner vrygelaat.

Die Barber gesin wil graag van die geleentheid gebruik maak om almal wat gehelp het, Drs Jaco en Mart-Marie Marais en die personeel van Curamed van harte te bedank vir hulle flinke optrede.