Juffrou, 3 hokkiespeelsters erg beseer in ongeluk

THABAZIMBI – ‘n Onderwyseres en hokkieafrigter van Hoërskool Frikkie Meyer asook drie lede van die skool se o/14A dogtershokkiespan is Dinsdag 20 April ernstig beseer nadat die bussie waarin hulle gereis het van die pad geloop en ‘n boom getref het. Talle ander insittendes van die bussie is ook beseer maar is na behandeling uit die hospital ontslaan.

Mev Celia Schoeman en die 0/14 hokkiedogters was oppad terug vanaf die hokkieproewe wat op Naboomspruit sou plaasvind. Hierdie proewe het as gevolg van erge reën en deurnat bane nie plaasgevind nie.

Die ongeluk het omstreeks 16:30 in die omgewing van Mabalingwe gebeur. Aankomende verkeer waaronder ‘n groot trok in gietende reën, het veroorsaak dat mev Schoeman moes uitswaai. Die bussie het blykbaar begin gly ‘n boom aan die bestuurder se kant getref. Die voertuig wat agter die bussie gery het, het dadelik gestop en die nooddienste ontbied, wat baie vinnig op die toneel was. Meeste van die ouers van die dogters het hulle na die toneel gehaas om hulp te gaan verleen.

Mev Schoeman is ernstig beseer en per helikopter na Unitas Hospitaal in Pretoria vervoer waar sy steeds onder sterk verdowing gehou word. Sy het reeds verskeie operasies ondergaan en daar word gewag dat sy genoegsaam stabiliseer voordat verdere operasies gedoen sal word. Ca-ria du Toit is oorgeplaas na Die Wilgers Hospitaal in Pretoria waar sy op Woensdag 21 April ‘n operasie aan haar regterarm ondergaan het wat gedurende die ongeluk sleg gebreek het. Elsa de Villiers het gesig beserings opgedoen en Leandi Coetzee ‘n erge sny aan haar kop.

Albei hierdie dogters is vir hul beserings in St Vincent hospitaal in Warmbad behandel. Die ander dogters wat vir skok behandel is en  ook beserings opgedoen het is egter reeds ontslaan.

Hoërskool Frikkie Meyer bedank die gemeenskappe van Bela-Bela en Thabazimbi, St Vincent Hospitaal en ambulansdienste vir flink optrede tydens die ongeluk. “Ons dank die Hemelse Vader vir lewens gespaar en dink in besonder aan die betrokke families.”