Beleef die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo by die KunsteGrot

THABAZIMBI – ‘n heerlike Kaas-en Wyn insluitend ‘n Kabaret-vertoning word Donderdagaand, 29 April om 18:30 by die KunsteGrot aangebied. Hier is die ideale geleentheid om meer ernstige teater te ervaar met “Die Mense van Anderkant Nêrens” met Babette Viljoen vir slegs R70 per persoon.  Saterdagoggend, 1 Mei om 11 uur sal daar ook ‘n vertoning wees vir R40 per persoon.

Die stuk bevat oorspronklike teks deur Pierre-André Viviers en musiek deur Babette Viljoen, met onder andere twee gedigtoonsettings van Antjie Krog en Ingrid Jonker.

Die stuk beeld die tipiese karakters uit wat mens in ‘n klein, verafgeleë dorpie “Anderkant Nêrens” kry en waarmee elkeen in die gehoor kan identifiseer. Die vraag is dan ook: Wat maak ‘n plek soos Anderkant Nêrens so spesiaal, so anders? En die antwoord is heel voor-die-hand-liggend: Dis die mense – nie ‘fancy’ en ‘upstairs’ mense nie, nee, gewone mense, lekker mense, ons mense.

Dit is byvoorbeeld die ou burgemeester wie se gehoorprobleme hom deesdae vreeslik in die skande bring, Gerda wat deur haar langverwagte liefde voor die kansel alleen gelos word, die plaaslike motorwerktuigkundige wat niks wil weet van vrouens en kinders nie – sy karre is sy “babies”, die sentrale-operateur wat haar moses teekom as sy nog so lekker inluister op die ander se gesprekke, en ‘n ma wat tot uiterstes gaan om vir haar kind te sorg.

Die vertoning bevat sowel komiese as ernstige momente, lag by die traan.

Dit is ‘n 60 minute vertoning, sonder onderbrekings/pouse.

Musiek en dialoog word deur Babette Viljoen uitgevoer (met klavier, kitaar, trekklavier, viool) en Ingemari Loots vul aan met agtergrondstemwerk en nog ‘n klavier.

Die stuk is nie gemik op die algemene Suid-Afrikaanse publiek nie, maar wel op die kunsliefhebbers / musikale fynproewers en mense wat bietjie meer soek as net die lekker sokkie-treffers. (18 – 90jaar) .

Kaartjies vir al drie die vertonings is by Rita (083 7448559) beskikbaar, en vanaf 29 April ook by Ingeborg by die Info-stalletjie by die Thabazimbi Wild- en Toerisme Expo.