Toerisme toer

THABAZIMBI – Toerisme is ‘n vak wat baie baat by praktiese ondervinding en die toepassing van wat die leerders in die klaskamer leer. ‘n Groep toerisme leerders van HFM wat uit 34 leerders bestaan het, het vanaf 2-8 April ‘n toerisme toer meegemaak.

Die plekke wat besoek is, was onder andere die Tsitsikamma Woud waar die groep die “Tree Top Canopy tours” gedoen het en tot 30 meter bo die grond deur die lug gevlieg het op foefie slides. By die Elephant Sanctuary het hulle saam met die olifante gestap en kon hulle aan hierdie enorme diere gevat het en hulle selfs gevoer het.

Hul volgende bestemming was Robbeberg Natuurreservaat met sy asemrowende uitsig waar die groep ‘n 2 uur lange staptog aangepak het, met die hoop om walvisse te sien. Monkey Land en Birds of Eden is ook besoek wat vir die leerders baie interessant was.

Die hoogtepunt van die toer was ‘n besoek aan die alom bekende Kongo Grotte wat ‘n ware fees vir die oog is. Laaste op die lys is besoek afgelê aan die High Gate Volstruisplaas waar hulle die geleentheid gekry het om op hierdie voëls te ry  en het die Frikkies gesien dat daar ‘n paar is wat goeie joggies sal uitmaak.

Die groep het tuisgegaan by die Wilderness Beach Hotel en is gekomplementeer op die goeie gedrag van die leerders, en daar is gesê dat hulle goeie ambassadeurs van HFM is.