Private sektor in SA het ’n tekort aan griep-entstof

Daar is ’n tekort aan griep-entstof in die private sektor, deels omdat die staat groot hoeveelhede entstof opgekoop het om hoërisikogevalle soos mense met MIV/vigs in te ent.

Verskeie apteke en ’n groothandelaar het gesê hul voorraad Influvac, wat mense teen sowel seisoenale as die pandemiese H1N1-virus (varkgriep) beskerm, is op.

Solvay, die vervaardiger, is tans die enigste verskaffer en het vroeër gesê hy het van sy voorraad aan die staat verkoop. Dit is onbekend of Solvay nog voorraad kan bekom.

“Baie meer mense het kom vra vir entstof en ons voorraad van sowat 500 dosisse is binne die laaste twee weke van Maart heeltemal uitverkoop. Ons hoop om nog te kry, maar Solvay het glo nie voorraad nie.” Dr. Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het die tekort in die private sektor gister bevestig. Die B-griepvirus het glo nie so goed “gegroei” toe die entstof vervaardig is nie, wat veroorsaak het dat daar minder beskikbaar is. Talle vervaardigers het hul bronne glo ook sowat ses maande gelede aangewend om slegs ’n entstof teen varkgriep te vervaardig, met die gevolg dat hulle nie tyd gehad het om die kombinasie-entstof betyds te maak nie. Volgens Blumberg het die private sektor in die verlede min belang gestel in griep-inentings en is groot hoeveelhede entstof ná elke seisoen weggegooi.

Antoinette Pienaar

Bron Beeld 6 April 2010