HFM sport gedurende die April vakansie.

THABAZIMBI – Gedurende die April vakansie het die leerlinge van HFM aan verskillende toere deelgeneem. Die Eerste rugby span, o/16 A, o/15 A en die o/14 A spanne het by Ben Viljoen die fynere kunsies geleer van rugby speel gedurende die April vakansie.

Ander skole wat ook daar was, was Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa, Hoërskool Eric Louw van Musina, Hoërskool Ferrum van Kwa-Zulu Natal, Hoërskool Sarel Cilliers van Northern KwaZulu-Natal, Hoërskool Sybrand van Niekerk van Mpumalanga en Hoërskool Goudrif van Gauteng. Die eerste span het 3 wedstryde gespeel waarvan hulle verloor het teen Hoërskool Frans du Toit en gewen het teen Hoërskole Eric Louw en Ferrum. Le Roux Bodenstein en Reon Kemp is as speler en agterspeler van die wedstryde aangewys.

Die o/16 A span het 4 wedstryde gespeel, verloor teen Hoërskool Ben Viljoen en gewen teen Ferrum, Sybrand van Niekerk en Goudrif. Dewald Havenga  is aangewys as agterspeler van 2 wedstryde en Louis le Grange as voorspeler van die wedstryde. Die o/16 span het die span toekenning ontvang vir die span wat die beste vordering getoon het in die week. Die o/15 A span het 3 wedstryde gespeel waarvan hulle 2 verloor het, teen Ferrum en Sarel Cilliers en gewen het teen Goudrif.

Die o/14 A span het in hulle 3 wedstryde wat hulle gespeel het 2 gewen teen die Barbarianspan en teen Ferrum en verloor hulle laaste wedstryd teen Sarel Cilliers. Hendrik du Plessis en Jason Dye is as voor en agterspelers onderskeidelik aangewys, en hierdie span het ook die span toekenning ontvang vir beste vordering.

Die netbal spelers van HFM het ‘n kursus te Klein Kariba meegemaak waar hulle baie nuwe tegnieke geleer het. Die o/14 span het 4 wedstryde gespeel waarvan hulle 3 gewen het. Die o/15 span het ook 3 wedstryde gespeel en ongelukkig in die finaal teen Hoërskool Menlo Park verloor. Met die o/16 span het dit beter gegaan.

Hulle het 3 wedstryde gespeel en wen die finaal teen Hoërskool Menlo Park. Die o/17 span het 4 wedstryde gespeel waarvan hulle 3 gewen het. HFM se eerste netbal span kursus was aangebied te “Raloka netball ranche” Brits.

Die dogters het baie baat gevind by die afrigting en mooi ontwikkeling getoon gedurende die kursus. By die kursus is Luani du Preez gekies om in die Protea en Tuks wedstryde te speel.

Die hokkie spanne van HFM het gedurende die vakansie aan die sport week by Hoërskool Ben Viljoen te Groblersdal deelgeneem. Die spelers het hard geoefen en baie baat gevind by die afrigting en leer van spel patrone wat goed te pas sal kom by hul ligawedstryde wat net om die draai lê.
Die 1ste span het 5 wedstryde gespeel waarvan hulle 4 gewen en 1 verloor het. Die skole waarteen hulle gewen het was teen Hoërskool Ferrum 2-0, Hoërskool Akasia 2-0, Hoërskool Kanonkop 2-0 en Hoërskool Goudrif 1-0 en verloor teen Hoërskool Centurion 0-1.

Die o/16 A span het 5 wedstryde gespeel waarvan hulle 2 gewen, 2 verloor en 1 gelykop gespeel het. Die o/16 span  het die trofee ontvang vir die beste vordering op die toernooi. Die o/15 A span het 4 wedstryde gespeel waarvan hulle 2 gewen, 1 verloor en 1 gelykop gespeel het. Die o/15 A span is ook aangewys as die mees gedissiplineerde hokkie span op die toernooi.

Die o/14 A span het 4 wedstryde gespeel waarvan hulle 2 gewen en 2 verloor het.