Bosveld akademie op ‘n drafstap

Persoonlike higiëne is van kardinale belang in die hoërskool en hier word Nico Roets en Johannes van Rhyn, twee graad 8 leerlinge, die fynere kunsies van tandeborsel geleer tydens die oriënterings fase.

THABAZIMBI – In ‘n vol en besige jaar met amper meer vakansie-tyd as leer-tyd is daar nie tyd oor om op louere te rus nie. Die leerlinge by Bosveld Akademie het dit goed besef en is druk besig om skouer aan die wiel te sit.

Altyd reg vir ‘n uitdaging, het die leerlinge moue opgerol en sommer die bul by die horings gepak, of in die geval die spinnekop by die voelers. “Eeeeuw, jak, grous!” Dit is maar net ‘n paar van die geluide, of moet mens sê uitroepe, as die Graad 7 dogters hulself chirurge hou en spinnekoppe dissekteer. Volgens hulle is dit blykbaar baie beter om die binnekant van ‘n spinnekop te sien as om hom te sien hardloop. Hierdie fyn handjies staan vir niks verkeerd nie: van vrugte droog, vir die maer jare tot verskillende strukture ondersoek in die tegnologie klas.

Uitstappies soos die een na Marakele Nasionale Park word gedoen om die leerlinge meer van hulle omgewing en ook van die natuur te leer. ‘n Goeie Akademiese kennis word aangevul deur praktiese ondervinding, wat die leerlinge die werk  beter laat verstaan en dit maak die leerproses net soveel lekkerder. Niks so lekker soos ‘n wildsbesigtigingsrit in skooltyd nie…

Als is darem nie net speletjies nie, en die leerlinge presteer op akademiese vlak baie goed. 2010 het ‘n klomp uitdagings en geleenthede. Die leerlinge by Bosveld Akademie sien uit na ‘n besige jaar en prestasies op alle vlakke is hierdie jaar weereens ‘n gegewe as mens kyk na die entoesiasme waarmee hulle alles aanpak. Hou die spasie dop vir enige verwikkelinge in die Bosveld Akademie familie.

Johan Muller