Wees ingelig – besluit slim

Die wêreld oor hoor 12 miljoen mense “jy het kanker”. As geen aksie geneem word nie, word die kankerlas geprojekteer as 26 miljoen nuwe diagnoses en 17 miljoen sterftes in 2030.

“Een uit elke vier mense in Suid-Afrika word deur kanker geraak.  Die goeie nuus is dat deskundiges voorspel dat tot 40% gevalle voorkom kan word. Die risiko van kankerontwikkeling kan aansienlik verminder word deur inenting, gereelde oefening, gesonde eetgewoontes, beperkte alkoholinname, verminderde sonblootstelling en vermyding van tabak” sê Sue Janse van Rensburg, HUB van die Kankerassosiasie van Suid-Afrika (KANSA).

Die omgewing dra by tot 90% van kanker en net 10% ontwikkel as gevolg van oorerflike faktore. Slim keuses kan aan jou ’n gesonde gebalanseerde lewenstyl gee.

Rook is byvoorbeeld die grootste kankeroorsaak ter wêreld en meer as 44 000 Suid-Afrikaners sterf jaarliks aan tabakverwante siektes. Dit is ook die wêreld se hoof- voorkombare doodsoorsaak en die enigste produk wat jou laat sterf as jy dit gebruik soos die vervaardiger dit bedoel!

Geprosesseerde voedsel en kafkos behoort vermy te word – dit hou verband met vetsug en baie tipes kanker. Vetsug hou ook verband met ander siektes soos kardiovaskulêre siektes, diabetes, beroerte en hipertensie. Die Wêreld-Kankernavorsingsfonds bereken dat tot ’n derde van kolon-, bors- en nierkanker aan vetsug en te min fisiese aktiwiteit toegeskryf kan word.

KANSA beveel aan dat minstens 30 minute, op die meeste weeksdae gewy word aan fisiese aktiwiteit om ’n geballanseerde lewenstyl te handhaaf. Fisiese aktiwiteit sluit in huiswerk, tuinmaak, swem, dans en stap. “Rebounding” wat verwys na trampolienspring – selfs net op ’n minimat – vir slegs twee minute is gelyk aan ses minute draf of 22 minute se stap! Jy sal weer soos ’n kind voel terwyl jy massa verloor, fiks word en weer ’n goeie vorm kry terwyl jou energievlakke verhoog.

Kinders benodig ’n gesonde dieet en gesondheidsopvoeding om slim lewenstylkeuses te maak sodat hulle produktiewe, gesonde, gelukkige volwassenes kan word. Geniet die reënboog van Suid-Afrikaanse vrugte en groente om kanker te help verhoed. Raak betrokke in sport en pretkatiwiteite.

Sluit aan by KANSA se aanlyngemeenskap en help om die boodskap ver en wyd te versprei. KANSA wil graag hoor wat jou pla en wat jou standpunte is. Hiervoor is ’n muur daargestel.

Alhoewel baie hofies op KANSA se webwerf voorsiening maak vir kommentaar, hou dit gewoonlik verband met spesifieke artikels. Daar was voorheen nie ruimte vir algemene kommentaar nie. “Skryf op ons muur” is dus daargestel.

Vir elke maand is daar ’n eie muur sodat jy ook kan reageer op die maandtema of -veldtog.  Skryf gerus ’n verhaal van hoop of vertel ons van jou en jou gesin se reis om ’n kankerdiagnose te oorkom. Jy kan ook aanbevelings doen ter diensverbetering of om beter fondse te kan insamel.

KANSA het ook verskeie Facebook-profiele waar foto’s en videostroke bekyk en gedeel kan word oor KANSA se veldtogte, fondsinsamelaars en gebeurtenisse om die boodskap uit te dra.

KANSA se doel is om die voortou te neem in die stryd teen kanker in Suid-Afrika en wel deur ‘n unieke en geïntegreerde diens te bied aan die publiek en aan al die mense wat deur kanker geraak word.  KANSA is ‘n voorste betrokkene in kankernavorsing waaraan meers as R4,5 miljoen jaarliks bestee word. Die wetenskaplike bevindings en kennis wat deur hierdie navorsing verkry word, word gebruik om KANSA se gesondheidsprogramme te rig en sy waghondrol tot groter voordeel van die publiek aan te wend. KANSA het dwarsoor Suid-Afrika meer as 330 personeellede, 12 000 vrywilligers, 51 kantore en 11 tussentuistes.