Besondere gholfweek agter die rug

THABAZIMBI – Die afgelope week was ‘n besondere gholfweek vir ons klub en die hele land. Dit het verlede Donderdag begin met die baie geslaagde Sages byeenkoms hier op ons baan. Saterdag is daar plaaslik IPS gespeel en Derek Torlage wen met 36 punte. T Dearlove (34), Louise van Graan (33) en Alta Venter en Marina van der Wateren (33) het ook in die pryse gedeel.

Piet Venter, Tiaan Bronkhorst, Chris Bronkhorst, Sarel Marais, Rudi Conrad, Eugene Oberholzer, Pieter Heyns en Kerneels Viljoen het op Swartklip teen die span van Amandelbult Liga gaan speel en wen drie van die vier wedstryde. Dan het ons Suid-Afrikaanse spelers ook hulle stemme internasionaal dik gemaak. Ernie Els wen weer in Amerika met Charl Schwartzel tweede. Retief Goosen eindig ook tweede is sy toernooi terwyl Louis Oosthuizen  en Thomas Aiken ook tweede en derde eindig in hulle toernooi. Voorwaar uitslae om op trots te wees.

Wat die Sages se dag hier betref wil die klub net baie dankie sê aan almal wat gehelp het om die dag so ‘n groot sukses te maak. Die volgende lede het mildelik bygedra tot die sukses: Dr Andries Buys, Dr Willem du Plessis, Nico van der Westhuizen, Dr Len Scott, Nico Human, Johan Barnard, Theron Theunissen en Christo Rall. Dankie ook aan Esmé Behrens, Gawie Hendriksz en Alta Venter wat hulle gholfkarretjies beskikbaar gestel het vir die Sages. Jeanetta Rall en haar dogter, Celeste het die heerlike potjie gemaak sodat niemand die lang pad terug op ‘n leë maag moes aandurf nie.

Een van Thabazimbi Gholfklub se jong spelers, Jaco Prinsloo, wat tans aan die Universiteit van Pretoria studeer, is ook besig om hom as een van Gauteng Noord se sterre te vestig. Ons gaan nog baie van sy gholfprestasie hoor.