Voltydse beroepsvrou word 74

THABAZIMBI – Tannie Hannetjie Pelser, gebore Maritz op 12 Maart 1936 op die ou familieplaas, aangrensend van die Matlabasrivier, Haarlem Oos het verlede week haar 74ste verjaarsdag gevier.

Sy was een van nege kinders waarvan sy die “baba” was. Sy begin haar loopbaan as tikster in 1954 te Pretoria by die Hoofposkantoor en later as privaatsekretaresse van die destydse Posmeester-Generaal, mnr Mike Strauss. Sy ontmoet haar wederhelfte, Coert Pelser, en hulle trou op 3 Oktober 1959 in die Bosmanstraat Kerk. Uit hul huwelik van 51 jaar is daar drie kinders gebore, Lizette, Nico en Hanli. Sy spog vandag met vier kleinkinders en een agterkleinkind.

Gedurende 1970 verhuis hulle van Pretoria terug na Thabazimbi. Vir sewe jaar is sy werksaam by die polisiestasie waarna sy Yskor aangepak het.

In 1994 sluit sy aan by Tokkie Swanepoel Boekhouers BK waar sy nou al die afgelope 16 jaar werksaam is. Tannie Hannetjie loof die Here vir Sy groot genade en liefde wat Hy elke dag aan haar en haar gesin betoon en dat sy op die ryke ouderdom van 74 nogsteeds voldag kan werk met goeie gesondheid.