Strawwe Gholf-Klubkampioenskap

Thabazimbi Gholfklub se twee Klubkampioene vir 2010, John-James Behrens en Nita Barnard.

THABAZIMBI – Die klubkampioenskappe wat verlede Saterdag gespeel is was verseker die strafste in die geskiedenis van die klub. Na die tweede 18 putjies was nie minder as vyf spelers gelyk aan 156 houe nie en moes daar verder uitgespeel word.

Eugene Oberholzer, Toppie Olivier, Johannes Selokela, John-James Behrens en Chris Bronkhorst het toe weer die laaste drie putjies aangdurf om die wenner te bepaal. John-James Behrens het toe die stryd gewen is as die 2010 kampioen gekroon. Chris Bronkhorst is die Netto kampioen.

Onder die dames was daar ook ‘n kwaai stryd en Nita Barnard is vir die derde jaar die kampioen met Alta Venter die Netto wenner. Al die spelers het maar swaar gekry weens die hitte maar elkeen het tog die dag geniet.

Deur die dag is daar verversings voorsien wat deur Chappies en Evelyn Behrens voorberei is. Ook die aand se heerlike braai is deur hulle gedoen. Opregte dank en waardering gaan aan die spelers wat hulle lojaliteit gewys het deur te speel, die komitee en almal wat betrokke was. Die baan was soos altyd in ‘n uitstekende toestand en daarvoor word Eddie Williams en sy span bedank.

Hierdie Saterdag, 20 Maart, is die eertse Liga wedstryd op Swartklip waar Thabazimbi se span teen Amandelbult speel. Sterkte ook aan hierdie manne.

Die klub het met leedwese verneem van die afsterwe van Billy Pring se vrou Veronika na ‘n lang siekbed. Billy is een van die klub se steunpilare en die klub wil hom en sy familie verseker van ons almal se bede en meelewing met hulle verlies.