Bosveld konferensie vir VLU-takke

Van die prag rangskikkings wat vir beoordeling ten toongestel is.

SWARTKLIP – Die dames van Northam VLU het met die voorbereidings van die groot
jaarlikse VLU konferensie heelwat geskarrel om als in gereedheid te bring vir Woensdag 3 Maart se samesyn.

Die dames van Northam VLU tesame met Thabazimbi VLU en Strewe VLU het die konferensie aangebied met Sokker as die jaar se tema, wat uiteraard saam met die Sokker Wêreldbeker val wat later vanjaar plaasvind, dié breinbaba van Annetjie Dreyer het dames aan die dink van vroeg in 2010 en die “bos besempies” wat toiletpapier in ‘n “sokker” bal behou, was van die vindingryke idees wat vorendag gekom het. Pragtige handgemaakte items is in die saal uitgestal en beoordeel. Die punte wat ontvang is, was van hoë standaarde en al die artikels het pragtig vertoon. Die gasspreker op die dag, Ronel Burger , ds Koos Burger se eggenote, het ‘n praatjie gelewer oor “die stem van die vrou wêreldwyd”.

Volgens Ronel staan die vrou aan die begin- en eindpunt van elke huishouding, die vrou sorg vir die lampie om almal in die huishouding se lampies in die oggend aan die brand te steek, as die vrou se lampie nie helder skyn nie sal die res van die huishouding ook net so dof en ondoeltreffend wees. Die vrou moet haar denke positief programmeer, as sy met ‘n kop vol rommel loop, sal sy denke vol rommel uitstraal.

Ronel het verder verduidelik dat gister verby is en môre is onseker, maar vandag is die present wat ons moet aanneem. Ten slotte het sy gesê dat vroue mooi moet kies waarby hul betrokke wil wees en moet hul nie met onbenullighede ophou nie. Dit bring mee dat tyd verkwis word op iets wat niks aan haar lewe kan verryk nie.

Die “toegangsgeld” vir die konferensie was twee blikkieskos, wat aan die einde van die dag aan Marianti van der Walt van Solidariteit Helpende Hand oorhandig is. Daar was hope pryse wat vir gebak, handewerk, blomme en skilder oorhandig is.

Rainier le Roux, die vermaaklikheids gaskunstenaar vir die dag van Thabazimbi, het die dames behoorlik “warm” gedans met sy swaaiende heupe op die maat van Elvis Prestley se “Hound Dog”. Volgens die dames se ritmiese handeklap en jeukerige voete was hy ‘n groot sukses. Die dag is afgesluit met middagete waarna die dames almal weer na hulle tuiste vertrek het.