Kinkel in beterbal se stert

THABAZIMBI – Die gekombineerde beterbal kompetisie wat verlede Saterdag gespeel is het ‘n kinkel in die stert gehad. Die paar se tellings is nie soos gewoonlik bymekaar getel nie, maar is met mekaar vermenigvuldig en soos almal weet is enige getal wat met 0 vermenigvuldig word 0.

So, daar was verseker ‘n paar ongelukkige pare. Esmé Behrens en Louise van Graan maak egter 70 punte en is dus nog goeie vriende na die spel. Die Venter egpaar, Piet en Alta se 69 het seker ook nie tot te veel huismoles gelei nie.

Die eerste rondte van vanjaar se Interaksie Gholf is dan ook verlede Vrydag gespeel en die wenners daar was Christof Penzhorn en Jaco Jacobs met 27 punte. Hierdie Interaksie word reeds die afgelope twee jaar geborg deur Vivienne Mackenzie van die plaaslike Spur.

Eerskomende Saterdag is dit die groot sweet met ons jaarlikse Klubkampioenskappe. Dit is 36 putjies se spel maar word in verskillende afdelings gespeel. Die A-afdeling speel Slagspel en die ander Stableford punte. Dit is dan ook die een kompetisie wat elke lid van die klub behoort te speel.
Volgende Donderdag 18 Maart speel die Waterberg Sages ook hier op Thabazimbi se baan. Dit is ook ‘n hoogtepunt vir al die Sages.

Saterdag 20 Maart speel die klub se manne liga op Swartklip teen Amandelbult.

27 Maart is dit die eerste groot borgdag om geld in te samel om die klub se toerusting op te knap. Die gereelde Pick n Pay Sonsakker wat Woensdae  gespeel word bly steeds baie popular.