Gr3’s in boeie

THABAZIMBI- Die Gr3’s van Laerskool Thabazimbi het verlede Woensdag 3 Maart die Polisiestasie besoek en baie belangrike aspekte rondom kindwees en hul regte geleer.

Inspekteur Mpyana het die groep leerlinge ingelig wat hul regte is, naamlik: voedsel, klere, ‘n dak oor sy kop, opvoeding, gesondheid en om liefde te ontvang. “Tannie” Karlien Greeff het vir die groep leerlinge die nodige noodnommer geleer (10111 of 0800 of 555) tot al die leerlinge dit uit hulle koppe kon opsê. Sy het aan die leerlinge verduidelik wat kindermisbruik is. Die leerlinge het ook gevoel hoe swaar ‘n koeëlvaste baadjie is en hoe koud boeie om die gewrigte is. Die leerlinge is ook na die stink selle gevat en gewys hoe groot die sleutels is wat die skelms agter tralies moet hou. Daar is vir hulle vertel dat daar tot 10 gevangenisse in een sel kan wees en hulle kry net brood in die middag en pap en vleis in die aand, hulle lê op ‘n dun matrassie en ‘n stekerige kombers. As die gevangenisse begin sing of geluide maak weet hulle daar is ‘n bakleiery aan die gang.

Inspekteur Herman Joubert het die groep leerlinge omtrent vuurwapens geleer en hoe baie gevaarlik die vuurwapens is. Hy het hulle gewys hoe ‘n 9mm pistool en ‘n R5 met 35 rondes patrone lyk en voel en hoe ‘n haelgeweer met rubberkoeëls skiet as daar ‘n oproer is. Rubberkoeëls maak nie dood nie net baie seer, het hy verduidelik. Hy het ook klem gelê op veiligheid en dat wapens altyd in die kluis gebêre moet wees, moet nooit ‘n geweer op iemand rig nie, moenie vreemde voorwerpe optel nie, aangesien dit gevaarlik kan wees en dalk kan ontplof. Ten slotte is die kinders verseker dat die Polisie hul vriende is en dat hul ‘n belangrike deel van die gemeenskap uitmaak.