Bosveld Gesinsfees skop af met top kunstenaars

Die Van Stadens ontvang die wisseltrofee van Deon Gerber, regs, sameroeper van die potjiekoskompetisie.

THABAZIMBI: Die eerste Bosveld Gesinsfees wat deur die Leeupoort-tak van die Boeremusiekgilde van SA aangebied is, het van die top kunstenaars getrek. Die dag wat aangebied was ten bate van Thaba Stereo 104.9FM se fondsinsameling sal in waarskynlikheid nou ‘n jaarlikse kalender dag word.

Teleurstellend min mense het die dag bygewoon en ewe min het aan die potjiekos kompetisie deelgeneem. Die potjiekosspanne se potjies wat hulle opgedis het was almal waarlik voortreflik. Die O’Hagansspan van Ferdie en Rudolf het die wissteltrofee gedeel met die Van Stadenspan, waarlik ‘n baie moeilike besluit wat die span beoordelaars gehad het. Die Lekota span met Kiewiet as leier het die wel verdiende tweede plek beklee.

Die span potjiekos beoordelaars het waarlik moeilike besluite moes neem. Die beoordelaars was Deon Gerber (sameroeper), Mauri Lombard, Ella van Vuuren en Bakkies Eayres.

Frans en Driek van Dwaalboom het woord gestand gedoen en ‘n skaap blou gekleur en aangebied vir veiling wat flink deur André “Spiekeries” de Beer opgeveil is vir R600 wat ewe flink deur die twee manne teruggekoop is. Marietjie se bottel mampoer het R130 gehaal en Rudi van O’Hagans se mandjie ruiker is deur Dirk van Vuuren vir R250 opgeraap.

Die gehalte van die kunstenaars wat opgetree het en die absoluut briljante Sekelbos orkes het die dag gered. Die feesgangers het hulle behoorlik verlustig in die kunstenaars.

Baie verblydend was die plaaslike kunstenaars se talent. Rainier le Roux met sy sterk, suiwer stem het talle doedies se harte bekoor en Rudi Meiring het gewys dat hy ‘n lang en belowende sangloopbaan het wat wag. Cinda de Klerk het harte gesteel soos lanklaas gesien in Thabazimbi.
Ou staatmakers Neels Ackerman die wakker Rakkerman, Kobus Kloppers, Basie Peens en Hekkie de la Guerre – om net ‘n paar te noem – het boeremusiek liefhebbers se harte warm laat klop. Dirk van Vuuren wat in beheer van die kunstenaars was het sy program soos ‘n horlosie laat loop.

Hoogtepunte van die dag was die optredes van Jesse Lange, Pieter Naudé en uit die bloute Danie Pretorius. Dit is met dankbaarheid en vreugde dat gesê kan word dat die Afrikaanse musiektoneel blinker as blink sterre het. Charl van Zyl, die Gé Korsten van die Weskus (Proppies) en Dirk van Vuuren (Doppies) het die toeskouers in vervoering gehad.

Die lede van Sekelbos was Gerrie Meyer (leier en dromme), Paul Dreyer (ritme kitaar en wat ook die ongelooflike kwaliteit klank verskaf het), Pieter Niemandt (ritme kitaar en sang) en Fred Behr (bas).

Tobie Lombard