27ste Thabazimbi Wildsfees en Toerisme-expo bied iets vir almal

THABAZIMBI – Sonnige dae te midde van die bosveldskoonheid van die Noordweste kan net een ding beteken: dis weer tyd vir die immergewilde Thabazimbi Wildsfees en Toerisme-expo vanaf 29 April tot 1 Mei. Soos vorige jare beloof dit om ‘n feestelike affêre te wees met hope top kunstenaars en opwindende aktiweite om na uit te sien. Daar is ‘n goeie mengsel van nuwelinge en ou geliefdes om na uit te sien, waaronder die betowerende Theuns Jordaan wat met vier top verkoperalbums spog. Daar is oudergewoonte ‘n oneindige verskeidenheid stalletjies om deur te snuffel op soek na ‘n lekker happie om aan te smul of ‘n geskenkie vir iemand spesiaal. Kinders kan hulself verlustig in mallemeuleritte, in waterballe rondspeel, trampolien spring of  hulle kan die Gruwel Grot aandurf. Daar is ook boeresport waaraan die hele gesin kan deelneem en ‘n Drop Tower en Bungee Rocket vir dié wat nie afgeskrik word deur hoogtes nie, asook roofvoël-, jagluiperd- en reptieldemonstrasies. Ander uitstallers om na uit te sien sluit Zambezi Safari (Conqueror produkte), LA Sports, 4×4 Megaworld, Bushnet, Thabazimbi Garage (GM voertuie) en Land Rover in.

Hou gerus www.thabaexpo.co.za dop vir meer inligting en volledige programme. Besoek ook die webwerf vir stalletjie aansoeke of skakel (012) 327-6163/6601 of e-pos ingeborg@oppikoppi.co.za of tiaan@oppikoppi.co.za . Aansoeke sluit 1 April 2010.