Aansluiting eis nog ‘n vragmotor

THABAZIMBI – ‘n Vragmotor wat onderweg was vanaf Lephalale het vroeg Donderdagoggend, 4 Maart omstreeks 03:45 by die Warmbadweg/Sentrumpad-kruising omgeslaan.

Volgens die verkeersbeampte op die toneel het die vragmotorbestuurder vermoedelik aan die slaap geraak. Die swaar tabakstof-vrag het bygedra dat die vragmotor spoed opgetel het teen die afdraende-helling, wat veroorsaak het dat die bestuurder, nadat hy te laat begin rem het, nie die draai betyds kon maak nie. Die trok het op die kruising tot ruste gekom.

Die Thabazimbi Mediese personeel was gou op die toneel en die bestuurder wat wel beserings opgedoen het, is na die staatshospitaal vervoer waar hy verder behandeling sal ontvang.