General

Plaaseienaar wreed vermoor

Mnr Ettienne Cammaerts (61 jaar oud), n Belgiese burger, is Vrydag 26 Februarie 2010 op die plaas Cronwell Farm naby Villa Nora in die Koedoesrand/Baltimore distrik vermoor. Hy het 13:00 die middag plaaswerkers gaan aflaai nadat lone betaal is en sy vrou, Ingrid, het bekommerd begin raak toe hy na 19:00 nog nie teruggekom het nie.

Die Villa Nora SAPD is geskakel en sy lyk is later op ‘n plaaspad wat min gebruik word, gevind. Hy is vermoedelik tussen 13:00 en 15:00 vermoor. Spore is gevind en daar is twee verdagtes waarna gesoek word. Die Plaaswagte in die Ellisras en Vaalwater gebiede is ontplooi. Die egpaar bly reeds vir die afgelope ses jaar op die plaas.

Mnr Doors le Roux, voorsitter van die Provinsiale Veiligheidskomitee het sy innige meegevoel uitgespreek teenoor die gesin, familie en gemeenskap van wyle mnr Cammaerts. Hy het gesê dat geen woorde die pyn kan beskryf nie en geen woorde die skok kan versag nie. Hy het gesê die gesin is oorspronklik van België. Hy is ‘n Belgiese burger. Beide sy ouers leef nog en is woonagtig in België. Die Belgiese ambassade sal van die moord in kennis gestel word.

In ‘n ander voorval is mnr Paul Dunn (49), ‘n plaasbestuurder van Constantia Produkte, ‘n sitrusplaas in die vroeë ure op Saterdag 27 Februarie 2010 by Letsitele in sy huis doodgeskiet.

In nog ‘n onverwante voorval is mnr Ron Smith (70) op die Droogekloof-hoewe, 15 km buite Warmbad op die Thabazimbi-pad, dood in ‘n rondawel op Dinsdagoggend 2 Maart 2010 aangetref nadat bekommerde familie hom nie in die hande kon kry nie en die SAPD gekontak het.
Le Roux het gesê dat die Provinsiale Veiligheidskomitee ‘n dringende vergadering met die LUR van Veiligheid in Limpopo aangevra het. Dit is nou tyd dat die departement meer doen as net praat. Hierdie situasie vereis ook dat die Provinsiale Kommissaris van polisie dringend met georganiseerde landbou skakel om maniere te vind om die onhoudbare toestand te verbeter. Dit is ook nou tyd dat die LUR die Plaaswagstelsel wat die groen ligte gebruik, sanksioneer. Finansiële steun vir die Plaaswagstelsel moet ook ondersoek word ten einde georganiseerde landbou in staat te stel om die plaaswag stelsel verder uit te brei. Dit is tog duidelik dat die polisie geen beheer oor die toestand het nie.

Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê dat die moord so kort voor die sokkerwêreldbeker nie ‘n goeie beeld van Suid Afrika skep nie. Hierdie moorde vind plaas voordat ‘n groot aantal SAPD lede uit die platteland onttrek gaan word om sogenaamde baie belangrike persone in die stede te beskerm en op te pas. Die platteland word uitgelewer aan gewelddadige kriminele terwyl sokker ondersteuners en spelers soos goud opgepas word. Wat kan dan verwag word wanneer die sokker wêreldbeker begin?