Bejaarde ly in informele nedersetting
Die tekort aan opgeleide maatskaplike werkers is nou so ernstig dat daar tans slegs een maatskaplike werker vir elke nagenoeg 4 000 Suid-Afrikaners is. Dít, meen Solidariteit Helpende Hand, is selfs erger as die dringende tekort aan polisiebeamptes, waarvan daar nagenoeg een beampte vir elke 323 Suid-Afrikaners is. Hierdie tekort aan maatskaplike werkers beteken uiteindelik dat daar nie doeltreffend na die maatskaplike nood van veral behoeftiges omgesien kan word nie.
Volgens dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is daar tans sowat 430 000 wit Suid-Afrikaners wat in plakkerskampe regoor Suid-Afrika woon. “Dit beteken dat daar tans slegs sowat 107 maatskaplike werkers is wat na die maatskaplike nood van inwoners in dié kampe kan omsien. Met die nagenoeg 77 kampe in Pretoria alleen, is dit duidelik dat dit ‘n onbegonne taak is om ten volle na die behoeftes van inwoners in die kampe om te sien.”
Intussen beklemtoon Helpende Hand dat die talle voorvalle van verwaarlosing en armoede onder veral bejaardes tans aan die toeneem is. “Weens die tekort aan maatskaplike werkers word dié mense se stem en lyding nie gehoor nie,” verduidelik Langner.
Sarie Rossouw* (64) was ‘n teatersuster by ‘n staatshospitaal in Johannesburg voordat sy tien jaar gelede ‘n beroerte gehad het. Sy bly tans in ‘n wit informele nedersetting in Pretoria waar sy nie toegang tot basiese mediese sorg het nie. Haar lyf is oortrek met bedsere waar sy al vir meer as ‘n jaar op ‘n dun matrassie in die informele nedersetting lê. Sarie is vanjaar nog nie een keer deur ‘n maatskaplike werker besoek nie. Sy ontvang tans geen mediese sorg nie en is heeltemal ondervoed.
Met net een maatskaplike werker vir elke nagenoeg 4 000 Suid-Afrikaners eis Solidariteit Helpende Hand dat bejaardes in haglike omstandighede nie verder sal ly as gevolg van ‘n tekort aan maatskaplike werkers in diens van die regering nie.
Dié dringende beroep volg ná die jongste klagte van verwaarlosing wat Helpende Hand drie dae gelede aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling deurgegee het. Tot op hede is die saak nog nie opgevolg nie. “Daar is tans net een maatskaplike werker vir elke 3 840 mense in Suid-Afrika. Ongeveer 12 500 maatskaplike werkers bedien dus die totale bevolking. Daarom val talle weerloses in informele nedersettings deur die krake,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Die vraag na maatskaplike werkers om sake van verwaarlosing onder bejaardes aan te meld en te verwys, het die afgelope paar maande selfs meer drasties toegeneem. Navorsing deur Solidariteit Helpende Hand toon dat 60% van die inwoners van die 77 Afrikaanse informele nedersettings in Pretoria 60 jaar en ouer is. Maatskaplike organisasies regoor Suid-Afrika het bevestig dat daar ‘n drastiese toename is in die aantal gevalle van verwaarlosing onder bejaardes wat die afgelope jaar by die organisasies aangemeld is.
‘n Totaal van 2 100 soortgelyke armoedesake word tans deur die Centurion Raad vir Bejaardes ondersoek. Meer as 75% van dié bejaardes ontvang ‘n karige pensioen van tussen R1 500 en R3 000 per aand. Om dié rede kry hulle nie hulp van die staat nie omdat hulle net bo die grens van maatskaplike subsidies val. Bejaardes is egter aan hulle eie genade oorgelaat aangesien dit gemiddeld tussen R3 500 en R5 000 per maand kos om in ‘n ouetehuis te woon. Die Raad voorsien daagliks voedsel aan sowat 230 bejaardes wat slegs op hulself aangewese is. ‘n Noodfonds vir 59 Afrikaanse bejaardes is ook onlangs deur die Raad gestig.
Volgens Pretoria Bejaardesorg word daar ongeveer 1 000 gevalle per maand by die organisasie aangemeld. Om die groeiende nood te hanteer, het nege nuwe maatskaplike werkers vanjaar by die organisasie aangesluit.
Dr Langner sê die situasie word vererger omdat opsigters geld maak deur weerlose bejaardes te misbruik. “Baie van hierdie eienaars vat ook die pensioengeld van die bejaardes wat in laekostebehuising of informele nedersettings bly. Die senior burgers het dan vir die res van die maand niks oor om van te leef nie en kan ook nie self hul mediese onkostes dra nie,” sê dr. Langner. Volgens dr. Langner word hierdie sake van misbruik en verwaarlosing egter selde aangemeld as gevolg van die tekort aan maatskaplike werkers.
“Kos verlig net korttermynnood. Dit is belangrik dat bejaardes se lewens op hul oudag so gemaklik as moontlik gemaak word sodat hulle hul goue jare steeds met selfrespek en trots kan deurmaak,” sê dr. Langner.
*Skuilnaam