Business

Bosveld Vee Expo

BELA BELA – Bosveld Dorperklub bied vanjaar weer ‘n boeredag/opleidingsdag en veiling vanaf 10 tot 12 Maart by die Warmbad Skouterrein aan. Boere, hulle werkers en ander belangstellendes word genooi om dit by te woon.

Vanjaar word verskillende beesrasse ook uitgestal en die Nasionale Pedi-kampioenskappe gaan ook tydens die expo gehou word.

‘n Besonderse uitstalling van al die inheemse skaaprasse, naamlik Rooiskilder-Persie, Swartskilder-Persie, Rooikop-Persie, Swartkop-Persie, Afrikanerskaap, Van Rooy, Namakwa-Afrikaner, Damara, Pedi en Zoeloe en die inheemse bokke, Kalahari Reds, Boerbokke en Savannas, gaan ook te sien wees.

Pragtige Dorpers en Witdorpers gaan vertoon word en die Vrydag op die veiling aangebied word.

‘n Kort praatjie gaan aangebied word oor Ile de France-skape.

Leon Kruger gaan verduidelik hoe die manier waarop diere tydens roetinetake soos dip, doseer en ent hanteer word, hulle gesondheid negatief kan beïnvloed. Diere raak maklik gespanne wanneer hulle hanteer word en dit veroorsaak die vrystelling van ‘n hormoon, kortisol, wat hulle immuniteit verlaag. Voorstelle om spanning te verminder gaan bespreek word.

Die opleiding gaan, soos vorige jare, in Afrikaans, Engels en inheemse tale aangebied word. Groepe gaan in die taal van hulle voorkeur en deur middel van praktiese demonstrasies onder meer geleer word hoe om inspuitings te gee op die regte plekke, hoewe te knip, oorplaatjies reg aan te sit, ID-nommers en om siektetekens vroegtydig raak te sien.

Die bekende Dorperteler en beoordelaar, Phil Rawlins, gaan in die algemeen praat oor kunsmatige inseminasie, siektes en hanteringsgeriewe. Hy gaan ook oor ooie (die ander helfte van jou kudde/stoet) praat, toegelig met skyfies. Daar sal voldoende geleentheid vir vrae en besprekings wees.

Die adjunk-minister van Landbou, dr Pieter Mulder, gaan die Expo open. Interessante produkte gaan uitgestal word en daar sal ook twee kleinveeveilings gehou word.

Navrae kan gerig word aan Kobus Potgieter 083-654-4594.