General

50 Goue jare vir egpaar

Hannes en Annie (Torpstra) Smit vier Saterdag 27 Februarie hul Goue Bruilof. Die egpaar is 50 jaar gelede, op 27 Februarie 1960, deur professor Kroese, destyds verbonde aan die Teologiese Skool op Potchefstroom, in die huwelik bevestig vanuit die Hervormde Kerk Thabazimbi. Professor Kroese het toevallig Annie se ouers, Oom Sietze en Tannie Etjé Torpstra, in Dokkum Nederland as lidmate by die Gereformeerde Kerk ingelyf waar hy ook Annie as kind gedoop het.

In 1953 het die Torpstra’s hul op Thabazimbi kom vestig en het hulle die bakkery, Torpstra’s, in Kwaggastraat, tussen Tweede en Vierdelaan, bedryf . Hannes het in 1956 na Thabazimbi verhuis en het as rekenmeester by die destydse NJ Roets en Seun algemene handelaar gewerk. Gedurende die sewentigerjare het Hannes ‘n hardeware en boumateriaal winkel bedryf. Annie het intussen met die kwekery begin en later jare het Hannes, nadat hy die winkel verkoop het, saam met haar die kwekery bedryf. Die twee is steeds by die kwekery (Tirol Kwekery) in Warmbadweg bedrywig saam met hul seun, Sietze.

Die egpaar het drie kinders naamlik Sietze, Willie en Ida en is grootouers van sewe kleinkinders. Vriende en familie gaan die dag met ‘n eg Friese dag van koek en koffie saam met hulle by hul huis, Te Rust en Utsjuch net buite Thabazimbi, vier.