General

47ste Bosveld Atletiek Interhoër

THABAZIMBI – Die 47ste Bosveld Atletiek Interhoër word vanjaar by Hoërskool Frikkie Meyer op Saterdag 27 Februarie 2010 vanaf 07:00 aangebied.

Dit is sowaar vanjaar die jaar van Interhoërs by Frikkie Meyer, 2010 is nie net vir Suid-Afrika ‘n groot jaar nie, dit beloof om ‘n besonderse jaar vir Hoërskool Frikkie Meyer te wees aangesien hul gasheerskool staan vir al die Interhoërs wat hierdie jaar gaan plaasvind.

Die Atletiek Interhoër is die afskop van ‘n uiters bedrywige jaar wat voorlê en almal het dit eens dat 27 Februarie 2010 nog lank in die anale van HFM bekend sal staan as ‘n voortreflike dag.

Die miernes bedrywighede strek al byna oor ‘n tydperk van ‘n jaar wat aktiwiteite soos terrein opknap, atletiek oefen, sang oefen, kos voorbereiding en dies meer insluit. Een groot les wat HFM hieruit geleer het, is dat hulle ‘n uiters betrokke ouergemeenskap het wat nie skroom om te help en te ondersteun sodat HFM hul beste voetjie kan voorsit nie.
Die Beheerliggaam en Hoof wil hiermee ‘n groot dank uitspreek aan al die rolspelers wat bygedra het tot die suksesvolle aanbieding van hierdie geleentheid.

Hul nooi die hele gemeenskap na HFM se sportterrein op Saterdag 27 Februarie 2010. Die besoekende skole is Hoërskool Ellisras, Hoërskool Warmbad, Hoërskool Nylstroom, Hoërskool Piet Potgieter, Hoërskool Hans Strijdom en Hoërskool Ben Viljoen. Hierdie sewestryd beloof ‘n atletiek- en sangfees vanuit die boonste rakke te wees. Kom ondersteun die atlete wat op vele terreine gaan deelneem.