Goeie Gholf met Bonus Syferspel

THABAZIMBI –  Uitsonderlike goeie gholf is tydens verlede Saterdag se Bonus Syferspel (Bogey) gespeel soos die wenners se tellings getuig. Pieter Heyns met +10 en Bokkie Bronkhorst +8 het ver gewen. Jakkie van der Wateren, Bernie Gous en Wiaan van der Westhuizen, almal met -1 het ook in die pryse gedeel.

Die Bosveld Liga het ook verlede Saterdag afgeskop en die manne het op Mogol gaan speel. Die klubs het nog nie teen mekaar meegeding nie en dit was ‘n indiwiduele kompetisie. Die manne wat gaan deelneem het was Ettiene le Roux, Johan Barnard, Billy Pring, Kerneels Viljoen, Chris Bronkhorst, Sarel Marais, Tiaan Bronkhorst en Rudi Conrad.

Pietie Terblanche is vir baie jare al een van die klub se staatmakers. Hy is egter nie net ‘n besondere sportman nie maar het ook op verskeie terreine in die gemeenskap ‘n leidende rol gespeel. Dit is dus vir ons almal ‘n skok om te verneem dat hy ernstige gesondheids probleme het. Hy is in almal se gedagtes en gebede en almal hoop dat hy tog sal herstel en deel van die gemeenskap sal bly.

Eerskomende Saterdag se kompetisie is ‘n Beterbal. Pare sal getrek word. Aaneenlopende kompetisies wat ook nou gespeel gaan word is die Interaksie Gholf en die Eklektiek kompetisie. Die weeklikse Sonsakker wat deur Pick n Pay geborg word bly ook populêr. Lede moet maar asseblief probeer om ook gereeld aan hierdie kompetisies deel te neem.