3-dag Uitdaging ten bate van Kraanvoëls

KZN – Die drie-dag 108km voetpad-hardloop uitdaging naby Howick in die Karkloof area is deur twee atlete van Thabazimbi aangepak.

Zanie Janse van Rensburg en Wilma Pienaar van Active Life Gym het die naweek van 12 to 14 Februarie hierdie uitdaging gedoen wat ten bate van die behoud van die die bedreigde Kraanvoëls in Suid-Afrika aangebied is.

Die uitdaging het bestaan uit drie afstande wat dan in drie dae opgedeel is, naamlik: eerste dag 32km afstand, tweede dag 42km afstand en derde dag 32km afstand.

Die eerste dag het Zanie en Wilma saam met die res van die groep wat bestaan het uit 60 atlete, die 32km roete op en af met die berge gedraf en gestap. Die omgewing is ongelooflik mooi en ongeskonde. Die meeste van die dag het die atlete op voetpaadjies gedraf en moes die enkels maar styf hou aangesien die oppervlak so ongelyk is. Hulle het hierdie roete, wat hul ook bestempel het as die “maklike roete” binne 4 ure en 50 minute voltooi.

Op dag twee, Saterdag 13 Februarie het die atlete Wilma se verjaardag gevier tussen die reuse berge, deur boom plantasies en uiteindelik by die “wetlands”  waar hul besig is om die grond te rehabiliteer. Hier broei die Kraanvoëls ook, maar die atlete was op daardie stadium so moeg dat hul geen voëls gesien het nie. Die roete het hul 6 ure geneem om te voltooi en volgens hulle was dit maar vasbyt van die begin tot die einde. Daardie middag het hul ‘n donderstorm soos min beleef en dit was nie baie veilig in die tente nie.

Op ‘n sopnat dag drie het hul 32km afstand in stikdonkerte aangepak. Daar was oral waterpoele en na skaars 5km moes hul die rivier oorkruis wat papnat skoene vir die duur van die roete ingehou het. Volgens die atlete was dié roete die mooiste een wat hul deur ‘n woud geneem het en oor stroompies en stompe, waar hul rondgegly het aangesien als maar taamlik nat was na die reën. Hierdie roete het hul 4ure 30 minute geneem om te voltooi. Van al die deelnemers het slegs 10 nie die uitdaging voltooi nie. Zanie en Wilma het van die 20 vrouens wat deelgeem het vyfde en sesdeplek behaal.

Volgens Zanie en Wilma is hierdie uitdaging beslis die moeite werd. Daar word nog ‘n verdere vyf voetslaan-hardloop uitdagings in die toekoms beplan, waarvan die datums bekend gemaak sal word.