Vier Valentynsdag met ’n vars asem
Blomme, sjokolade en ’n romantiese aandete sal nie Valentynsdagromanse laat opflikker as jou asem sleg ruik nie!
Volgens ’n verbruikersopname dink drie uit vier Suid-Afrikaners dat ’n slegte asem die ergste ding is wat ’n lewensmaat of iemand met wie jy uitgaan kan hê – erger as vuil naels, gevlekte tande of ’n slegte vel.
Mondhigiënis Vicky Gowar van Port Elizabeth sê dat halitose of slegte asem die meeste mense kwel. “Sowat 90% van mense is bekommerd daaroor dat hulle asem soms sleg ruik, maar is te verleë om professionele hulp te kry of ’n vriend te vra. Hulle sal moontlik pepermente of asemverfrissers gebruik, maar dit kan bloot die slegte asem verbloem sonder om die oorsaak van die probleem reg te stel.”
Gowar sê dat die behoorlike versorging van tande en tandvleis die beste manier is om slegte asem te verhoed.
Die wêreldkenner op die gebied van slegte asem, dr. Mel Rosenberg, ’n professor in mikrobiologie aan die Universiteit van Tel Aviv, werk reeds meer as 20 jaar aan die diagnosering en behandeling van die toestand. Volgens hom begin omtrent 85% van slegte asem in die mond, meestal as gevolg van swak mondhigiëne en gevolglike tandvleissiekte.
“In sowat sewe uit tien gevalle word halitose veroorsaak deur bakterieë wat postnasale drup afbreek, asook kosdeeltjies en selle wat onwelriekende swaelagtige verbindings vrystel.” Hy beveel daaglikse vlos, skoonmaak van die tong, tandeborsel twee keer per dag en die gorrel met ’n alkoholvrye mondspoelmiddel aan.
Speeksel is die natuur se manier om bakterieë weg te was. Omdat alkohol die mond uitdroog, kan produkte wat alkohol bevat die probleem van slegte asem vererger. Sekere kosse en rook kan dieselfde doen. Die glas wyn tydens jou Valentynsete is op die ou end dalk nie so ’n goeie idee nie!
Die uitslae van Dentyl pH se nasionale opname steun die vermoede dat onvoldoende mondversorging die oorsaak van die probleem van slegte asem by die meeste Suid-Afrikaners is. Hoewel 90% van die respondente in die opname gesê het dat hulle hul tande een keer per dag borsel, het meer as een derde erken dat hulle nog nooit hul tande gevlos het nie en min van hulle gebruik ’n mondspoelmiddel.
“Daar is geen studies wat toon dat die gereelde gebruik van pepermente meer as ’n paar minute nadat jy dit gesuig het enige effek het nie,” sê dr. Rosenberg. “Tog sal meer Suid-Afrikaners (40%) eerder ’n peperment suig om hul asem vars te hou as om ’n mondspoelmiddel te gebruik wat klinies bewys is om slegte asem teen te werk.”
So hoe sal jy weet of jou asem sleg ruik? Die kanse is goed dat jy nie sal weet nie en dit is onwaarskynlik dat jou geliefdes jou sal sê; sowat twee derdes van die respondente sal nie ’n vriend daarvan sê nie en amper ’n derde (32%) sal dit nie aan hul eie lewensmaat noem nie. Rosenberg sê sy ondervinding is dat baie mense onnodig bekommer is dat hulle ’n probleem het, terwyl ander met halitose heeltemal onbewus daarvan is. Die beste manier om uit te vind is om ’n goeie vriend of familielid te vra. As jy nie gemaklik is om dit te doen nie, stel dr. Rosenberg voor dat jy jou gewrig lek, die speeksel laat droog word en dan daaraan ruik. Of trek ’n stukkie tandevlos tussen jou kiestande deur en ruik daaraan. Daar is ’n toets (Kiss-o-Meter) aanlyn by www.freshbreath.co.za beskikbaar wat jou ook ’n aanduiding kan gee.
Enigiemand wat met slegte asem sukkel moet raad by hul tandarts of mondhigiënis vra. Vir meer inligting oor slegte asem en mondversorging besoek www.freshbreath.co.za.