Pro Bow Boogklub, Thabazimbi presteer by SABA kompetisie
PRETORIA – Die eerste SABA (South African Bow Hunters Assosiation) kompetisie is op Saterdag 6 Februarie 2010 te Magnum Archery, Donkerhoek Pretoria aangebied.
‘n Rekord aantal inskrywings van 13 lede van Pro Bow Boogklub, Thabazimbi het aan die kompetisie deelgeneem. Vir baie van die lede was dit hul eerste kompetisie van die aard en het hul baie goeie ondervinding opgedoen. Dit was ‘n uitdagende baan wat heelwat vernuf van die skuts geverg het. Die kompetisie het om 09:00 afgeskop en die skuts moes na 20 teikens skiet, elkeen met sy eie unieke uitdagings. Die skuts het om ongeveer 14:30 klaar gespeel met die teikens. Vir die jongstes in die span, die “cubs” was dit ‘n baie lang dag, en het hul moedig deurgedruk tot aan die einde. ‘n Baie hoë standaard is gehandhaaf, en die skuts wat nie pryse gekry het nie, het dit net-net nie gemaak nie. Die volgende kompetisie vind plaas op 6 Maart 2010 te Horns Nek, Pretoria.
Die Pro Bow Boogklub, Thabazimbi het met 9 pryse vir die dag, huiswaarts gekeer, wat die meeste pryse per klub vir die dag was.
Quintin Jansen van Vuuren wen eersteplek in die Junior Male Broad head afdeling; Renaldo Nortjé wen eersteplek in die Junior Male Mechanical Broad head afdeling; Dylan Robinson wen eersteplek in die Cub Male Broad head afdeling; Pieter Botha wen eersteplek in die Cub Male Field point afdeling; Antoinette Hermann behaal ‘n tweedeplek in die Senior Female Broad head afdeling; Francois Botha behaal ‘n tweedeplek in die Senior Male Mechanical Broad head afdeling; Jaco Swanepoel behaal ‘n tweedeplek in die Junior Male Broad head afdeling; Pieter Viljoen behaal ‘n tweedeplek in die Cub Male Broad head afdeling en Henk Engelbrecht stap met die derdeplek weg in die Senior Male Broadhead afdeling.