Jonger spelers oorheers gholf
THABAZIMBI – Die maandelikse Slagspel is verlede Saterdag by die Thabazimbi Gholfklub aangebied. Heinrich Penzhorn (71), Kerneels Viljoen (74) en Tiaan Bronkhorst (75) was die wenners. Dit is opvallend hoe die jonger spelers deesdae besig is om die gholftoneel te oorheers, ‘n baie goeie teken vir ons klub.
‘n Paar van die klub se Sages-lede het Maandag en Dinsdag op Koro Creek in die Waterberg Sages Kampioenskappe gespeel. Korro Creek is ‘n baie uitdagende baan met sy talle sandgate, waterhindernisse en groot setperke. Thabazimbi se spelers het egter die toernooi oorheers. Billy Pring is vir die derde agtereen volgende jaar die kampioen met Chris Bronkhorst die naaswenner. Christo Rall is die netto wenner en Jeanetta Rall wen naaste aan die pen pryse. Dit is voorwaar ‘n prestasie en daar kon nog meer wenners uit die klub wees as meer van die lede gaan speel het.
Nommer 1/10 setperk is tans onder konstruksie en word daar van ‘n tydelike setperk gebruik gemaak. Die baan is tans ‘n redelike uitdaging met die gras wat so vinnig groei. Dit was dan nodig om ‘n nuwe grassnyer aan te koop om die semi-rof en die bowwe mee te sny. Dit is ‘n pragtige masjien, wat gelukkig nie maklik weggedra sal kan word nie.
Die Interaksie Gholf gaan ook binnekort in aanvang neem en spelers moet asseblief so gou as moontlik spanne inskryf. Daar is ook ‘n lys op vir spelers om hulle gewilligheid te toon om vanjaar liga te speel.