Tannie Flippie oorlede dag na terugkoms
THABAZIMBI – Tannie Flippie le Roux, bekend as die tannie wat destyds die room aan Thabazimbi voorsien het, is op 9 Januarie 2010 op die rype ouderdom van 85 jaar oorlede.
Afkomstig van Johannesburg, het sy haar na haar troue met Peet le Roux in 1944 in die bosveld kom vestig. Uit die huwelik is ses kinders gebore. Na haar eggenoot se afsterwe in 2000 het sy vier jaar by haar seun, Ampie le Roux, op Vlakplaas gewoon, ‘n verdere drie jaar tussen haar kinders gekuier en is laaste drie jaar deur haar dogter, Sannie op Naboomspruit versorg voordat sy op 8 Januarie vanjaar teruggekeer het na Thabazimbi om in die Tambotie Versorgingseenheid te woon.
Tannie Flippie se begrafnisdiens is op 15 Januarie 2010 deur ds Kalfie Loots vanuit die Hervormde Kerk waargeneem waarna sy op Vlakplaas begrafplaas langs haar eggenoot ter ruste gelê is.
Sy laat haar ses kinders, 15 kleinkinders en 11 agterkleinkinders na.
Die familie bedank graag ds Kalfie Loots wat sy afspraak met tannie Flippie nagekom het asook Sannie en Willie wie die afgelope drie jaar na haar omgesien het.